Monday 23 February 2015

Kaapse Jongens

Die Hanepoot druiwe is ryp en soos ‘n stout kind korrel ek voordurend as ek verby hulle loop. Soos met alles in die tuin moet ek ‘n manier vind om die druiwe te gebruik. Ek het wel probeer om die hele oes op te eet maar ek moes stop voordat ek al my respek vir hulle verloor het. Om soos ‘n parsbalie vol druiwe te voel was nou ook nie my idee van ‘n rustige naweek nie.

Hanepoot Oes
Ek mis sommer my ma op hierdie misreën oggend. Hanepoot was nou een van haar geliefste vrugte. Dit is snaaks hoe die vrugte wat rondom haar verjaarsdag ryp word haar geliefste was soos vye en Hanepoot. Dit kon ook wees omdat dit die vrugte was wat haar aan Gamkaskloof herinner het. Gamkaskloof waar die vye in sulke een pond blokke gepers is waneer hulle droog was en die Hanepoot sommer so aan die stingel gedroog is op die rye en rye draad stellasies.

Gamkaskloof se vrugte is van die soetste en as jy haar nou wil verras het moes jy so ‘n blok vye huis toe bring. Sy sou daar op die stoep in die son sit en die herinneringe so vy vir vy van die blok af breek en so ‘n ver kyk in die oë kry terwyl sy die soet geluk proe.

Ek besluit om na ‘n korrel konfyt resep te soek want wat kan dan nou beter wees as korrelkonfyt. Korrelkonfyt op ‘n warm sny tuisgebakte brood waar die botter so half wegesmelt het of saam met ‘n gebraaide snoek en patats.

Die uithaal van die pitte uit elke druiwekorrel het baie tydrowend geklink en ek besluit om deur my suster se ondervinding te leer. My suster Stella sê “moenie so baie sukkel nie die meeste pitte kook uit en dryf dan bo, jy skep net af , onthou jy gaan nie al die pitte uit kry nie maar hulle is ook goed vir jou”. Stella verkies om die korrels deur te sny dan haal die pitte maklik uit. Ek wonder as ‘n mens die korrels deursny of dit nog steed korrelkonfyt is en of dit dan nie halwe korrelkonfyt is nie.

Dit klink toe of dit dit ‘n hele naweek se werk is en ek besluit toe maar om brandewyn te gaan koop om Kaapse Jongens te maak.  Die winter kan net lekker raak met so ‘n paar Kaapse Jongens in die kelder en Keith kan so ‘n paar Kaapse Jongens saam Pretoria toe vat vir geselskap in die aand want na ‘n paar maande op die brandewyn kan so ‘n paar druiwekorrels lekker gesels.

Kaapse Jongens
Vars Hanepoot druiwe korrels in brandewyn word Kaapse Jongens genoem  waneer jy Sultanas in  brandewyn preserveer word dit Boerejongens genoem. Boerejongens het hulle oorsprong in Nederland en nie aan die Kaap nie. Baie van ons kultuur museums maak die fout om na vars Hanepoot in brandewyn te verwys as Boerejongens en ek het dit al in menige padstal ook gesien.

Daar is ‘n padstal naby Riebeeck Kasteel wat selfs Kwaaijongens verkoop wat ek nogal indrukwekkend en innoverend vind. Kwaaijongens is nartjies op Vodka.

By die drankwinkel het my aansien in die dorp sommer vinning gestyg want die verkoops dame kyk my met respek aan toe ek die twee bottels brandewyn op die toonbank neersit. Ek moes seker maar die twee bottels uitgedrink het dan het ek vroeër in die bed gekom want laataand staan en pak ek nog korrels in flesse en ek wonder of my  inmaak vernuf dieselfde respek sal afdwing.

5 comments:

  1. Pragtig. Laat 'n mens sommer uitsien na daai winters aande!

    ReplyDelete
  2. Baie deursettingsvermoe!
    Geniet!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Cheryl, jy weet waarheen om te kom as jy lus raak vir Kaapse Jongens.

      Delete
  3. 'n Verwarming Kaapse Jongen in die winter klink vir my iets om te waardeer! Ek sit hier in Londen en geniet om jou blog te lees, veral as jy in Afrikaans geskryf het. Al het ek partykeer die nodigheid om dinge meer as een keer lees om die bedoeling te kry. Jou huis en tuin is rerig 'n spesiale plek.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie John, hier wag 'n paar Kaapse Jongens vir jou waneer jy kom kuier.

      Delete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.