Wednesday 3 June 2015

Die Onvoorwaardelike Liefde van Sponskluitjies

Ek het al telkemale probeer om ‘n gereg te maak waarmee ek grootgeword het. Herinneringe aan my ma se kos bring hul eie nostalgie. Wat was dit aan my ma se kos wat dit net so lekker gemaak het?

Sy het nie baie geurmiddels gebruik nie maar alles wat sy gemaak het was so geurig. Waneer ek kos vir vriende maak sit ek my passie daarin en probeer om dit ‘n eet ervaring te maak. Deesdae het ons ‘n wereld se geurmiddels en bestandele tot ons beskikking maar ek mis soms my ma se kos.

My ma se kos was soos om ‘n warm kombers om jou binneste te vou en veilig te voel in die warmte. Ek besef niemand kan kos laat smaak soos my ma s’n nie. My ma se kos kan jy nie van ‘n resep maak nie omdat die hoof bestandeel nie daarin geskryf staan nie. Haar onvoorwaardelike liefde staan nie neergeskryf in haar resepte boeke nie dit was oral om ons en in alles wat sy vir ons gedoen het.


Haar liefde was in die kabel truie wat sy vir ons gebrei het en die tafeldoeke wat sy vir my gemaak het.

Haar grootste blyk van liefde wat sy betoon het was in die kos wat sy gemaak het. Ek kon nooit by haar kuier sonder dat ek met bakke en bakke kos daar weggery het nie.

Waneer ek teegestribbel het om die kos te vat het sy altyd gesĂȘ “As ek weet jy het kos, bekommer ek my nie so oor jou nie”, maar ek besef nou sy het met elke besoek vir my al haar liefde in daardie houers gepak en het sy my gevoed op meer as een wyse.
Ek onthou die tye wat ek vir eksamens moes leer en waar ek gesit en spook het om die formules van wiskunde en natuur en skeikunde in my kop te kry het ek onbewustelik gesit en wag vir die sagte klop aan my kamerdeur.  ‘n Klop wat gevolg is met my ma wat die kamer inkom met ‘n bak sponskluitjies wat die kamer vul met die geure van kaneel, suiker en botter.

Ek was en is nie ‘n poeding mens nie maar my ma se sponskluitjies was pure bederf en iets wat ek nie kon weerstaan nie. Waneer ek vir dae in my kamer sit en studeer het het sy haar liefde vir my kom gee in ‘n bakkie sponskluitjies wat die geluk ryk en geurig in my binneste kom sit.

Vir my is kos maak die grootste bewys van liefde wat jy aan iemand kan betoon. My liefde begin met die saadjie wat ek plant en groei oor die weke wat dit ‘n, slaai, kruie of groente word. Elke gereg wat ek op die tafel plaas is weke tevore al beplan en ek sal altyd probeer om net die beste van my tuin en huis voor te sit.  

1 comment:

  1. Jou liefde en passie kom beslis deur in alles wat jy voorsit en daardeur is dit of jou ma nog altyd saam met ons aan tafel kom aansit.

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.