Tuesday 12 July 2016

As geskiedenis amber kleurig in my ballonglas kom lê

Die verandering van seisoene bring ‘n verandering in wat ons drink en eet by Towerwater. Ligte somer slaaie en glase vonkelende MCC maak plek vir geurige bredies, swaar rooiwyne en aromatiese brandewyne.


Alhoewel die vallei bekend is vir sy wyne, het dit ook ‘n ryk brandewyn geskiedenis. Brandewyn is die eerste keer aan die Kaap gemaak op 19 Mei 1672 deur ‘n assistant kok op die Hollandse skip De Pijl.  Hy het 2 leggers, (min of meer 1000 liters) Kaapse wyn gedisteleer tot 3 ankers (min of meer 130 liters) brandewyn.

Niemand kan onthou wie hy was nie maar almal onthou sy gedisteleerde produk wat vinnig een van die gewildste produkte aan die Kaap geword het. Brandewyn het ook bygedra tot die ekonomiese groei van die Kaap.

Aan die begin jare het baie boere self brandewyn gestook van meestal Chenin Blanc en Colombar  druiwe en veral in die Robertson omgewing was die kwaliteit van hierdie kultivars baie goed.

‘n Aanduiding van hoe belangrik brandewyn was aan die Kaap is die feit dat dit opgeteken staan in boedelinventarisse . Die vroegste boedelinventaris wat ek kon kry waarin brandewyn opgeteken staan is die boedel van Catharina Cruse.  “5 Julij 1713: Op de solder – 1 celder met 9 flessen Caebse brandewijn.” Nie ‘n groot hoeveelheid nie maar beslis belangrik genoeg om opgeteken te word en spesifiek aan te dui dat dit Kaapse brandewyn is.


Op 24 September 1753 in die boedelinventaris van Hendrina Steevenz van die plaas Saraas Rivier staan opgeteken “1 disteleer ketel, 4 leggers, 8 amen, 1 half aam, 1 partij eijsere hoepels”. Die plaas Saraas Rivier of tans Sarahs Rivier lê tussen Bonnievale en Montagu en is ‘n buurplaas van ‘Aan de Breede’ waarvan Towerwater die plaasopstal was.

Dit is duidelik dat die vryburgers wat op leenplase kom boer het al in 1753 brandewyn in die vallei gestook het.

En op “28 Jannuarij 1802” in die boedel van Jacobus Arnoldus Steyn van die plaas Bruintjes Rivier, ‘n buurplaas van ‘Aan de Breede’ na Swellendam se kant toe, word die volgende aangeteken: “In de kelder - een brandewyns keetel met zyn toebehooren, een helm van een brandewyns keetel, een slang, elff heele leggers, twee halve leggers, drie bier pypen, vyf balies in z:t, twee halfaamen, drie tregters in z:t, een pintje”.



Behalwe dat mens duidelik uit die inhoud van die kelder en ander geboue kan sien dat hierdie plaas al goed gevestig was in 1802 is dit ook duidelik dat hier in swier onthaal was met bier, wyn en brandewyn.

Dit is dan ook geen wonder dat van Suid Afrika se bekendste brandewyn ook in hierdie vallei gebore is. Jacobus Petrus (Kosie) Marais was gebore op 12 Mei 1900 en het geboer op die plaas Klipdrift tussen Robertson en Bonnievale. Hy het hom sedert 1935 toegespits op die maak van likeurs en die distilering van hoë kwaliteit brandewyn tot met sy dood in 1963. Hy was ‘n ware ‘Renaissance Man’ wat alle geboue op die plaas Klipdrift self ontwerp en gebou het. Hy was ook 'n musikant en kultuurmens, amateur ingenieur, Springbok Bisleyskut, antropoloog, argeoloog, offisier en verligte politikus.


'n Muur by die Klipdrift proelokaal in Robertson
Sy “Southern Liqueur Company” het die nou bekende Klipdrift brandewyn gedistileer en dit ook as basis vir sy likeurs gebruik.

Die legende is dat die eerste Klipdrift brandewyn gedistileer was om 8:02nm in 1938 daarom staan die horlosie op die Klipdrift etiket op 8:02nm. Daar is net 4 minute in plaas van 5 tussen die syfers op die horlosie se gesig om Kosie se filosofie, dat nadat jy ‘n paar sopies Klipdrift gedrink het is tyd nie meer ‘n kwessie nie, te benadruk.

Geskiedkundige name sy aan sy vandag in die vallei
Kosie het die plaas van sy pa Kowie geërf wat dit volgens legende van ‘n boer genaamd Bruwer as ‘n geskenk gekry het omdat hy die boer van verdrinking in die Breede Rivier gered het. Die plaas is vernoem na die klipperig drif in die rivier op die plaas.

Die moderne Klipdrif Distileerdery in Robertson
Klipdrift is ‘n kommersiële distilleerdery vanaf 1963 toe Distell die Southern Liqueur Company sowel as die handelsnaam Klipdrift Brandewyn bekom het.
Met Klipdrift se geskiedenis wat amber in my ballonglas lê waar ek ‘n sopie Klipdrift Premium geniet, lig ek my glas vir Kosie , dromer, denker en doener. ‘n Man so na my hart.


Klipdrift Premium is aangewys as die wereld se beste brandewyn in 2016 by die “World Brandy Awards”.

Read the English version here When history glows amber in a balloon glass

No comments:

Post a Comment

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.