Thursday 15 September 2016

Die soet van ‘n bitterlemoen

Die lekkerste van Towerwater toe kom is om in die oggend die luike van die dubbel deure oop te maak en die sonskyn die vertrek te laat in stroom.  Daardie eerste blik oor die grasperk na die kruietuin gee vir mens onmiddelik insig oor wat die dag inhou.


As die dag grys en koud in die verte lê waar die wolke die berge wegsteek, is dit sommer ‘n dag vir langkook lam skenkel met geroosterde knoffel en roosmaryn aartappels en ‘n goeie Pinotage. Op grys dae kan mens maar die luike wyd oopmaak want daar is geen son wat instroom nie, en die koue sit nog teen die ruit.


Maar op die dae wat die son sommer sulke skuins strale deur die akkerboom se takke  gooi en die warmte van die oggend kom sit teen jou bors, dan weet jy hierdie is ‘n groot lekker dag. Die voëls se gekwetter in die tuin het jou dit al lankal vertel nog voor jy die luike oopgemaak het.


Die tuin is ‘n marmalade tuin met oranje en geel sitrus wat swaar aan die bome hang. In die boord groei die geel en oranje kappertjies mals oor die hoop klippe wat nog ‘n muur en vloer moet raak by die ingang van die kelder. Maar die tuin het besluit vir nou is dit ‘n berg van kleur waar die bye fees vier.


Onder die vioolhout wat herfs oranje buite die kombuis deur staan, begin die clivias oranje en geel te blom. Oral waar ek kyk herinner marmalade kleure in my tuin my van die werk wat voorlê.


Dis marmalade tyd by Towerwater. En met die soetlemoene wat al vergete deur belhammels/niksnutte/rampokkers, noem hulle wat jy wil, gesteel is, is dit net die bitter Sevillelemoene wat oorbly. Die Seville dra die oranje vrugte soos medaljes op sy bors asof hy wil sê ek het die aanslag oorleef.

Die persone wat die Valencias geneem het ken al die tuin. Die Seville is nie soos ander jare ook gesteel nie. Hulle ken al die bitter verassing wat onder die uitlokkende oranje skil vir jou wag. Daar is altyd ‘n oningewyde persoon tussen die diewe en die Seville met die bytmerk wat verontwaardig onder die boom laat val is, is bewys dat iemand nog nie die Seville ontmoet het nie.

Ek ken daardie eerste kennismaking met ‘n Seville lemoen as jy hom nie ken nie. Jare terug het ek vir 6 weke deur Spanje  ‘gebackpack’. In Seville met die rye en rye lemoen bome langs die strate het ek gedink ek het in Utopia geland. Vrugtebome as skadubome is net te wonderlik en lemoene soveel as wat jy wil eet. Die feit dat niemand anders die lemoene eet, wat plek plek al begin afval het, moes seker vir my ‘n waarskuwing teken wees. Die tweede dag in die stad kon ek dit nie meer hou nie. In die Maria Luisa Park het ek een gepluk. In die koelte van die tuin, weg van die warm Andalusiese son, het ek met soet verwagting my eerste byt in ‘n Seville lemoen gegee.


My eerste gedagte was dat die lemoen vrot was of met iets gespuit was om te verhoed dat mense dit eet. ‘n Vrot lemoen kon ek weg gooi maar ‘n vergiftigde lemoen kon my dood beteken en ek moes nog Cordoba toe. My akkommodasie was klaar bespreek.


Daar en dan het my avontuurlus saam met my lemoenlus in die drom beland en het ek besluit om net goed te eet waarvoor ek betaal het. Toe ek uitvind dat dit Seville of bitter lemoene was, het ek baie dom gevoel . Maar dit wys jou wat ‘n skuld gevoel kan doen. Ek is geleer om nooit iets te vat voordat jy nie gevra het of jy mag nie.

6 Flesse Seville marmelade en 6 Flesse Seville en gemmer marmelade
Ek het besluit om alles reg te kry vir marmalade maak en het die flesse gesteriliseer, die skaal en suiker uitgehaal en my messe geslyp. Met alles gereed vir marmalade maak, kon ek al my ander take in die tuin aanpak.

Later die middag het ek ‘n pluksel organiese lemoene en suurlemoene gaan pluk en hulle gereed gekry vir marmalade maak. Ek weeg nie meer die lemoene nie. Ek weet al 7 Seville en 1 suurlemoen gee vir jou ses flessies konfyt.


Die hele kombuis ruik na sitrus olie en waar ek elke skil sit en snipper, ruik my hande later die ene lemoen.  Die vars reuk van lemoene is soos die sonstrale wat deur die ruite bars waneer ek die luike oopmaak, vars en pure genot.


Die maak van marmalade raak ‘n ritme van sny, sap uitdruk en snipper, lemoen na lemoen. Nadat ek die warm flesse vol warm marmalade geskep het en hulle verseel het, het ek eers alles skoon gemaak.

Met 12 flesse oranje marmalade wat op die geelhout tafel staan, kon ek tevrede sug en besef ek weereens die soet in die bitterlemoene gesit.

1 comment:

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.