Wednesday, 14 December 2016

Son en Saffier vir my

Die somer in die Klein Karoo is helder en duidelik. Lyne afgeëts teen ‘n saffier blou hemel. Ek voel meer werklik met my sintuie wat op aandag staan vir die reuke van die tuin en veld. Selfs die teerpad ruik in die hitte.



Hooggelegen se tuin en huis 
Die kleure in die tuin by Towerwater is helder, selfs in die skadu kolle van die tuin. Waar ek soms Hooggelegen toe stap om te kyk hoe vorder die tuine en onderhoud by ons vriende se eiendom aan die anderkant van dorp, is die reuk van die lusern velde langs die pad oorweldigend. Ek moet ‘n oomblik stilstaan om die bloupers blomme te ruik waar hul geur in die lug hang. Ek wonder soms of dit is hoe blou ruik.



Uitsig vanaf Hooggelegen
Die lewe kan partykeer baie gekompliseerd voel. Maar ek glo dat die lewe eintlik baie maklik kan wees. Indien mense die lewe en ander mense eerlik, opreg en met respek behandel.



Towerwater is ons asemhaal plek. Waar elke dag gevul is met klein verassings in die tuin, maar om die balans te handhaaf, is daar ook die teleurstellings. Die verassings is daar om ons te herinner hoe goed die lewe kan wees, en die teleurstellings is daar om ons te herinner dat daar altyd ‘n les in die lewe is.


Indien mens ‘n lewe lei wat jou die geleentheid gee om naby die natuur te lewe, jou eie kos te kweek en ‘n boontjie bredie met die plant van ‘n boontjie te beplan, kry jy die geleentheid om meer intens te lewe.


My voorliefde vir C Louis Leipoldt se benadering tot die lewe, kos en woorde, spruit uit die feit dat ek voel ek verstaan sy passie vir die lewe op soveel vlakke. So waar ek onder die akkerboom sit en op kyk na die saffier blou met die soel hitte om my, voel ek een met sy gedig, “die beste”.

Die beste - C. Louis Leipoldt

Geil lusern in die laagste landjie;
Geil groen blare en blomme blou;
Aalwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en saffier daarbowe;
Ruik van die keurbos rondgesprei;
Kort klein skadu's oor die klowe;
Somer en son en saffier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei -
Wat is daar meer deur die dood te rowe?
Somer en son en saffier vir my!

Hoog oor die water skommel die vinkies,
Vol van die vreug van die somerdag;
Bly die gekwetter van bruin tinktinkies;
Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister, en so is dit hede -
Somer en son en saffier vir my!
Heer, wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
‘Somer en son en saffier vir my!’

Het jy 'n vrind wat jou hand kan vashou?
Vrinde vergaan en faal in nood!
Het jy 'n vyand, jou grootste las nou?
Vyande, vrinde gaan algar dood!
Wat's dit vir my as die gras vergrys word?
Somer sal kom met sy groen daarby;
Wat as in winter die water ys word?
Somer en son en saffier sal bly.
Boetie, ek vra jou, wat sê jy?
Wat's dit vir ons as die gras vergrys word?
Somer en son en saffier sal bly.

Roem van mense, rykdomme, pragte -
Alles vergaan soos die mis op die vlei:
Sterre wat skiet in pikdonker nagte,
Het langer lewe as roem kan kry.
Boetie, as ons nou 'n keus moet wae,
Hier op die wêreld, wat vra jy?
Roemryke lewe en lengte van dae?
Somer en son en saffier vir my!
Boetie, as jy nou jou keus kan kry,
Wat is die wens wat jou hart sal wae? -
Somer en son en saffier vir my!


(Uit drie wêrelddele – 1923)

1 comment:

Keith Loynes said...

Pragtige tyd van die jaar en jy vang dit so mooi vas in jou beskrywing. Dankie.