Thursday 4 May 2017

‘n Bak vol Herfs

En so het herfs uiteindelik geariveer. Nie met koue dae en reën nie, maar ‘n see van herfsblare wat die grasperk vol lê op uitermate warm dae.  Ek weet die winter kom maar dit is slegs die lengte van die dae wat mens bewus maak daarvan.


Die natuur hou nie by die reëls nie. Die dag temperature is nog steeds bo 30° Celsius wat die groente tuin en saad heeltemal deurmekaar maak.


Gerugte van reën is skaars en enige paar druppels wat val is ‘n rede vir blydskap. Die tuin ruik na ryp kwepers, appels en koejawels dit is amper soos om in ‘n vrugtebak rond te stap.


Vroeg oggend lê ek in die donker kamer en wag vir die dagbreek om die ruimte om my te vergestalt in venster, deur, muur, kas, bed en rietplafon.


Ek lê en wag vir die slag van die kerkklok onder in die straat om vir my ‘n duideliker idee te gee van tyd. Terwyl die tiptol onseker in die boord begin fluit, stop, wag net om die roetine te herhaal tot waneer hy seker is die dag gaan breek.


Waar someroggende my al voor ses uur in die tuin in lok, vind ek my voor die dubbeldeure van die sitkamer op herfsoggende waar ek uitstaar na ‘n tuin waar eens bekende plante, slegs swart silhoeëtte teen die horison vorm.


Die tuin is onbereikbaar ver in die donker. Ek mis die oggende wat lig en verassend in gister se onthou verander het.


Boccherini  se Kwintet vir kitaar en strykinstrumente No. 4 in D majeur, vul die oggend skemer  rondom my. Vir ‘n wyle  staan ek net en luister voordat  ek kombuis toe stap om die ketel aan te sit vir tee. Die ryk reuk van die teeblare word deur die warm porselein geaksentueer voordat ek die water oor dit gooi sodat hul geur al draaiend in die teepot vrygestel word.


Die moutagtige Assam tee en marmalade op roosterbrood is seker een van die heerlikste maniere om tyd te verwyl terwyl jy wag vir die dagbreek  wat gewoontlik met voëlgesang aangekondig word.


Herfs is ‘n bedrywige tyd in die tuin. ‘n Hele somer se baldadigheid moet onder beheer gebring word sodat die tuin gereed gemaak kan word vir die lente.


Ek tel ‘n hand vol akkerblare op vir die bak op die kombuis tafel en ‘n bak vol droë akkerblare raak plotseling ‘n heerlikheid wat die herfs die huis in bring. 

Herfs
Onder ’n helder koeler lug
raak die vrugte swaar aan tak
en loot. Die somermusikante tuimel
uit die notebalk van telefoondrade
en flikker noord. Die son sak
na warmer streke saans,
en die laaste dae swerm ylings
soos bye in die milde halflig.

Kontoere wat na skadu’s ryp
en sap wat óp in dun skeute stoot
en spring, ’n dieper stem
wat uitroep in die appelboord:
Ja, ook hierdie kort verblyf
skink op sy tyd ’n speelse heuning. (Johann  De Lange 1984)

1 comment:

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.