Thursday 24 August 2017

Snoek en soet patats in die boord

Vrydag ry ons Towerwater toe vanaf Kaapstad Internationale lughawe via Polkadraai Weg verby Belhar. Dis Vrydagmiddag en die bakkies met die blink snoeklywe agterop is volop duskant Belhar en Delft.

Snoek en patats
Die versoeking was te groot en ons stop om een van die blink lywe te koop. Ek het groot geword met my familie wat geglo het dat jy snoek net in die maande sonder ‘n ‘r’ koop anders koop jy pap snoek.

Snoek op die smous se bakkie
Die vishoring hoor jy tydens snoektyd nog in Woodstock en  die viskarre is lankal vervang met bakkies maar om die vishoring te hoor aankom deur die strate bring nog ‘n nostalgie van ‘n vervloeë tyd.  Dit is een van daardie unieke kultuur ervarings van die Kaap wat enige tyd kan verdwyn. Ons ondersteun die vis smouse in die hoop dat hierdie ervaring vir nog ‘n paar jaar vir ons behoue kan bly.

Gevlekte snoek op die rooster
Snoek is seker so Kaaps soos Tafelberg en die S’doos en dit is ‘n vis wat uniek in smaak en tekstuur is. Vir ‘n vars snoek is daar net een manier om gaar gemaak te word en dit is oor oop kole.

Snoek gereed vir die kole
Saterdag was ‘n lekker warm dag en met twee brode wat rys in die oond vir later se bak is die snoeiwerk in die tuin hervat. Ons het besluit om die snoek in die middag te braai want die aande raak darrem net te koud as die son sy kop agter die horison in trek.

Patat met kaneel en gedroogte nartjieskil
Terwyl Keith die vuur aan steek het ek ‘n lekker paar patats in die ballas mandjie op die solder gaan haal. Snoek sonder patats is ook nie snoek nie en wat dan nog waneer hulle uit jou eie tuin kom.


Die patats het ek met gedroogte nartjie skil en ‘n kaneel stokkie gaar gemaak en dit toe so in die bruinsuiker stroop in die oond gesteek vir ‘n paar minute.
Die snoek het so ‘n paar hale appelkoos blatjang gekry net vir die appelkoos bederf wat ‘n snoek se geur uitbring. Terwyl die snoek kole toe is druk ek die twee brode in die oond.


Ons het sommer tafel gedek in die boord en net daar sit en braai tussen die kappertjies en bloeisels wat die heerlike sonskyn weer ekstra geniet.

Hanepoot korrel konfyt

Die warm brood waarop die botter smelt het so ‘n lekker lepel Towerwater  korrel konfyt gekry. Dit moet seker die lekkerste lekker wees om so in die skaam skadu van die kaal peerboom die soet verleiding van die heel hanepoot korrels so saam met die warm brood te eet.


Op die sonnige winter dag geniet ons die grootste bederf wat die Kaap en Towerwater op ons borde kon sit, snoek op die kole, soet patats met nartjieskil, hanepoot korrel konfyt en vars gebakte brood. Dit was amper te veel heerlikheid vir een maaltyd.


Springfield se “Special 
Cuvée Sauvignon Blanc” was ‘n waardige wyn om saam hierdie winter braai in die boord te geniet.


So sit ons en smul, droom en beplan ons op ‘n warm wintersdag met ons handewerk rondom ons. Die boord het ‘n nuwe onthaal area geword en die nuwe braaiplek is beplan en damme en kanale vloei in en deur die boord.


Ons geniet dit om so te sit en droom terwyl  die lekker  die hele bord vol lê maar voor ons nog werk vir ons self gaan soek, moes ons eers nog die kweper laning gaan snoei het.

2 comments:

  1. Pragtige beskrywing maar mens moet dit maar self probeer vir die volle ervaring. Dankie dat jy dit so eg vasgevang het!

    ReplyDelete
  2. Snoek en patat...koning se kos. Dankie Thys vir jou wonderlike beskrywings...ek kan amper die kos proe!

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.