Wednesday, 21 March 2018

Om ‘n lelie te verguld

So het my hereboontjies toe hulle siklus van saad tot saad voltooi. Daar sit ek toe met die vles vol spierwit boontjies met hul swart ogies soos vissies in ‘n glasbak.


Die penarie waarin ek my toe bevind is, hoe maak ek hulle gaar. Watter dis gaan ek maak met hierdie aristokratiese peulplante. Is ek ooit waardig genoeg om hulle te kook?


Volgens Leipoldt,” Dit sou moeilik wees om in die groentetuin iets meer eg Afrikaans teë te kom as die ouderwetse “goewerneursboontjie”, of, soos hy soms genoem word, “hereboontjie”. En dit sou ook moeilik wees om hom raak te loop in enige buitelandse kookboek.”

En met die woorde van ‘n egte Suid Afrikaanse koskenner oor ‘n egte Suid Afrikaanse boontjie in my kop, vind ek my vroeg Saterdagoggend in die Towerwater biblioteek. Ek het besluit om die kenner en skrywer oor die hereboontjie te raadpleeg.


Ek haal ‘Polfyntjies vir die Proe’ van die rak af en blaai na die eerste essay waar sy eerste instruksie oor die boontjie is. “Kry dus die ouderwetse soort – as jy kan.  Liefs van ’n plaas êrens in die suidwestelike gedeelte van die Kaap, waar dit op riviergrond gegroei en teen die suidoostewind stand gehou het. En behandel dit asseblief nie soos gewone droë boontjies nie, want dit is ’n aristokraat en het sy voorregte, ja, selfs sy grilletjies.”
Wel myne kom indirek van die suidwestelike gedeelte van die Kaap. Maar kan ek nog aanspraak maak op daardie feit nadat ek hulle in Bonnievale geplant het?

Die geweekte boontjies
Volgens Leipoldt  week ‘n mens die boontjie vir net ‘n ander halfuur en kook dit dan op met ‘n grypie sout. Waneer die boontjie gaar is, is dit gereed vir die tafel en vir eet. Op hierdie manier gaar gemaak is die boontjies op hul beste en kan die koninklike smaak die beste geniet word.


Om enigiets meer met die boontjie te doen is onnodig, en soos Leipoldt dit stel, “Ja, daar is sommige van ons wat nie tevrede is met die reine eenvoud nie. Hulle wil die lelie verguld, reukwater oor ’n reseda giet.”


So besluit ek toe maar om die “lelie te verguld” en om sousboontjies te maak. Omdat ek ‘n bykos saam met die “gammon steaks” wou maak, het ek besluit om ‘n sterker mosterd sous vir die boontjies te maak.

Towerwater Mosterdbone

2 koppies (500ml) Hereboontjies
1 koppie wit suiker
½ koppie bruin suiker
200ml bruin asyn
2 eetlepels sterk mosterd (Engelse mosterd is ook goed)
2ml sout
1 rooi rissie, opgekap
sout en peper na smaak

Metode:
Week die boontjies oornag in koue water. (Wat Leipoldt nie weet nie sal sy hart nie seer maak nie). Kook die boontjies tot net sag. Vat ‘n koppie van die kookwater uit die kastrol en meng die bruin en wit suiker, bruinasyn, sout, mosterd, rissie en ’n bietjie witpeper en sout todat die suiker opgelos is. Voeg dan die mengsel by die bone in die kastrol en kook verder totdat die sous begin dik raak. Dien warm of koud op en garneer met gekapte pietersielie.


Ek het die bone saam met gerookte "gammon steaks” bedien en plaaslike gebroude bier het dit gekomplementeer.

So nou kan ek seker sê dat die hereboontjie se Towerwater storie nou volledig vertel is. Nadat hierdie heerlike bone in ‘n ryk sous as deel van ‘n Sondag middagete onder die akkerbome  bedien is. Dit is voorwaar ‘n aristokratiese boon in smaak en voorkoms en sal beslis ‘n instelling raak in die groentetuin en kombuis by Towerwater. Miskien probeer ek hulle nog in hul reine eenvoud maar ek moet sê, so verguld, smaak hulle baie lekker.

1 comment:

Keith Loynes said...

'n Volwaardige erfenis inderdaad. Pragtig vertel. Mag dit deur jou stories voortleef.