Wednesday 13 June 2018

Smoorsnoek en soet patats

Daar is min dinge in die Kaap wat so nostalgies is soos die vishoring in die strate van Woodstock. Jy hoor hom lank aankom en sy diep bas geluid is eens met snoek seisoen. Die bekende perdekar is vervang met ‘n bakkie, maar die koop en verkoop van snoek voor jou deur is soos dit ‘n 100 jaar terug kon wees.

Smoorsnoek en soet patats
‘n Visserman is ‘n unieke mens. Met son verweerde gesig en ‘n breë glimlag, maak hy jou snoek skoon en vlek hom met grasie daar in die straat. Wil jy jou snoek in mootjies hê, word dit behendig in porsies opgesny net reg vir ‘n deegbeslag en braai in die pan.


Ons verkies ons snoek heel en sonder die kop, iets wat met ‘n kopskud van ons visserman begroet word. Almal weet die heerlikste gedeelte van ‘n snoek is die kop. Eendag sal ek die kop hou en snoek kop sop maak. Maar dit is vir ‘n ander dag.


Ons staan met ons vet snoek en kyk na Tafelberg wat vining besig was om onder ‘n koue front te verdwyn terwyl die vishoring se blêr al verder deur Woodstock se strate verdwyn. Om vars snoek te koop is een ding maar om hom uit die see op die kole te sit, is nog beter. So met die dreigende reën teen Tafelberg se hang, steek ons laas Donderdag vuur aan om ons ‘vangs’ te braai.

Smoorsnoek
Snoek op die kole is hemels en so Kaaps as wat mens kan kry. Na ‘n heerlike snoek ete terwyl die welkome reën ons in die middel van winter kom sit, het ons besluit die res van die snoek gaan Towerwater toe.

Soet patat met gedroogde nartjieskil
Op die solder by Towerwater staan daar drie ballas mandjies vol vars patat en wag. Wat kan nou meer traditioneel wees as smoorsnoek en soet patats met kaneel en nartjieskil. Saterdag kon ons heerlik smul aan smoorsnoek met soet patats uit Towerwater se tuin uit.

Avokado pannekoek met gemmer en rissie roomkaas


Vir ekstra bederf, het ek die traditionele pannekoek op sy kop gekeer en ‘n voorgereg gemaak van avokado  met ‘n rissie en gemmer gegeurde roomkaas. So in die amper 200 jaar oue eetkamer van Towerwater, kon ons smul aan ‘n tradisionele gereg wat seer sekerlik ouer is as 200 jaar.


So met die smoorsnoek kom groet die Weskus die Klein Karoo met Towerwater se organise patats op een bord. Wat is nou beter as hartskos in ‘n hartsplek.  

1 comment:

  1. Dit is diep gerusstellend om 'n eeue oue stukkie van ons kultuurerfenis so te geniet. Dankie vir die deel.

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.