Wednesday 11 July 2018

Tee met Betsie Rood


Jare terug, het ek die voorreg gehad om Betsie Rood te ontmoet. Ek het in daardie tyd die lesings en uitstappies vir die Volksboukundige Vereniging van Suid Afrika beplan en gereƫl. Alhoewel die vereniging se belangstelling in die volksboukundige argitektuur is, wou ek aspekte inbring wat moontlik die argitektuur kon beinvloed het. Ek wou die leefstyl en kultuur van die inwoners van volksboukundige wonings belig.


Ek het besluit om Betsie Rood te nader om te gesels oor haar grootword jare op hul familie plaas op die Weskus. As ‘n skrywer en navorser van kos en medisyne tradisies in Suid Afrika, was sy my keuse as spreker vir die lesing.

Hertzoggies
Na ek ‘n afspraak gemaak het, het ek haar besoek by haar woonstel in die Tuine, Kaapstad. Met die beeld van die foto op die agterkant van haar boeke in my kop het ek aan die deur geklop. Die persoon wat die deur oopgemaak het was ouer as die fotos maar beslis die elegante dame wat uit die fotos staar. Sy was statig en duidelik ‘n dogter van een van die bekendste families van die Weskus, die Laubschers.

Maria Elizabeth Petronella "Betsie" Rood - 1916 tot 2003
Die woonstel het nie vir my die vrou wat ek ontmoet het se teenwoordigheid geregverdig nie. Alhoewel keurig gemubileer met familie erfstukke het ek haar eerder gesien in ‘n groot volksboukundige huis met sy witgekalkte mure en rietdak waar sy vorstelik die swaar deur op die stoep oopmaak om jou in die koel huis in te verwelkom.

Ons het onmiddelik lekker gesels. Sy het tee en tuisgebak bedien in tradisionele blou en wit tee goed. By die geelhout tafel het sy my van haar grootword jare op die plaas Uitvlug vertel. Sy is gebore op die plaas Langlaagte op 21 Junie 1916. Maar op vyfjarige ouderdom, het hulle na die familieplaas Uitvlug getrek. Die stories was bekend, maar ek het baie nuwe insigte gekry oor die lewenstyl in ‘n volksboukundige woning. Die argitektuur kom tog tot sy reg deur die mense wat daarin woon en werk.

Sy het my vertel van die woning en buitegeboue. Die vleiskamer, werkskamer, melkkamer, waenhuise, dorsvloer, kafhok en koringmeul. Dan was daar die varkhokke, koeistalle en krale. Dit was ‘n plaas ryk aan tradisies en aktiwiteie.


Sy was inskiklik met my idee vir ‘n lesing vir die Volksboukundige Vereniging maar het versoek dat sy dit in Afrikaans wou gee. Nie omdat sy nie Engels kon praat nie. Maar sy het gevoel dat dit beter sou wees om ‘n lesing oor ‘n  oorheersende  Afrikaanse leefstyl in Afrikaans te gee. Ek het met haar saamgestem. Met woorde soos misvloer, solder, soldertrap en brandsolder, pas dit by die wit afgekalkte huise.

Nadat ek die komitee oorreed het dat ons ‘n Afrikaanse lesing aan ‘n oorheersende Engelse gehoor aanbied, was dit naelbyt om te sien hoe suksesvol dit sou wees. Die lesing was ‘n sukses en almal het dit terdee geniet.

In Julie 2002 publiseer sy die boek ‘Uit die waaisand en die kalkklippe’ waarin sy haar grootword jare op die plaas Uitvlug beskryf. Die boek bevat kosbare beskrywings van die plaas geboue en aktiwiteite van elke buitegebou ensovoorts. Ek wil graag dink dat haar lesing aan die Volksboukundige vereniging die inspirasie vir die boek was.




Na haar dood in 2003, was ek eendag in Select Books in Langstraat, Kaapstad. Hier het ek gereeld deur hul versameling gekyk en nooit sonder ‘n boek uit die winkel geloop nie. Hul Africana versamelings is seker van die beste. Ek kry die besondere dag die kookboek, Die Praktiese Kookboek vir Suid-Afrika deur S. van H. Tulleken, eerste gedruk in 1922, met ‘n voorwoord deur Isie K Smuts. Isie, was die vrou van Jan Smuts wat eerste minister van Suid Afrika was in 1919-1924 en weer in 1939-1948.


Ek het lank gesoek vir die boek. Maar wat my vonds soveel meer kosbaar gemaak het is dat die boek aan Betsie Rood behoort het. Die boek was duidelik deeglik gebruik. Daar is verskillende tipe merkies langs resepte om hul belangrikheid of gewildheid vir die gebruiker aan te dui. Dit was asof ek die geheime skrif van een van Suid Afrika se voorste koskenners en navorsers probeer ontsyfer het.


Duidelik was die boek ‘n belangrike bron vir haar en het sy dit gebruik in haar navorsing met die skryf van haar vele kookboeke. Die Towerwater biblioteek kan spog met van Betsie Rood se eg Suid Afrikaanse kookboeke. Hulle beskrywing van eg Suid Afrikaanse kos is van onskatbare waarde en het vir my ‘n verwysings bron geword.

1 comment:

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.