Tuesday 9 June 2015

Toe Vind ek Gister by Ondersteun Handelaars

Op pad huis toe ry ek sommer by die Soutriviermark aan vir gemmer, knoffel en sommer net om Zubaida Adams se Ondersteun Handelaars te geniet.

Ondersteun Handelaars
Zubaida en Rumina Adams is nou al die vierde generasie wat Ondersteun Handelaars bedryf. Ek ry verby die Neighbour Goods mark wat ‘n miernes van mense is en ry by die Soutriviermark in. Ondersteun Handelaars is heelwat stiller maar lyk soos wat dit seker jare terug gelyk het. ‘n Stukkie geskiedenis vasgevang in ‘n wereld  wat so vinning  verander en waar hierdie  ervaring nie meer lank vir ons beskore gaan wees nie.



Met vrugtebome en groente wat juigend in blikke groei langs vrugte wat helder uitgestal lê, reg vir koop is hierdie handelaars 'n ware ervaring. Agter die toonbank is dit ‘n fees van kruie en speserye wat aromaties tussen basmati rys en gedroogte nartjieskil lê. Gedroogte nartjieskil is so tradisioneel en was vroeër deel van elke kombuis se geurmiddels. Soetgebak en glanspatats is met droeë nartjieskil gegeur.

‘n Stuk gedroogte nartjieskil in ‘n teeblik gee ook aan jou tee ‘n heerlike sitrus geur.


Zubeida groet my asof ek familie is met ‘n “Hoekom is jy so skaars ek sien jou amper nooit meer nie”. Ek voel sommer sleg want ek behoort hulle beter te ondersteun want enige kok wat sy sout werd is sal weet dat Ondersteun Handelaars vir jou daardie rare bestandele kan kry.


My aankope word skepties betrag en ek word gevra of ek seker is ek het nie iets anders nodig nie. Nee vandag is dit net gemmer, knoffel en so ‘n lekkerte onder die hart.

Toe ek wegloop druk sy iets in my hand “Hier is iets vir jou vir gister se onthou. Toe ek my hand oopmaak lê daar ‘n pienk star lekker en die onthou kom lê sommer so nat agter my ooglede.

Ek ry verby die mark meester se hokkie met sy groot horlosie, die star toffie so soetsuur in my kies en ‘n stukkie gister in my truspieëltjie.


En ek onthou C. Louis Leipoldt se Slamaierwinkel.


Die Slamaierwinkel 

Daar's 'n ewige rintinkel in die ou Slamaierwinkel,
Waar die tameletjies en groenvye stik;
Want die reuk van knoflokknolle meng met dié van kanferbolle,
En daar's rooi saffraan en bokkoms in 'n blik.
Dis 'n deurmekaar ophoping, uitgesprei hier vir verkoping,
En ou Abdoel troon die toonbank agteroor.
As ek dink, dan tril die snare van my vroeë kinderjare,
En dit klink vir my asof ek Abdoel hoor

As hy sedig heen en weer gaan, en die kopers daar te keer gaan -
‘Trippens suiker, sikspens skoon kanariesaad.’
Ja, ek sien hom met sy moesie, hoe hy vinnig die kardoesie
Vul met wat hy voor gevra word, as hy praat:
‘Ag, vandag is onplesierig, want die mense is so gierig -
Vir 'n sikspens wil hul twintig vye hê;
Dis 'n alte hoë rente, ons is netnou insolvente;
Ek kan net so goed bankrot speel en gaan lê.’

En dan hoor ek weer oom Bennie as hy sê: ‘Abdoel, ek ken nie
'n Slamaier wat so skatryk is as jy.
Jy het, hoor ek, 'n verband op 'n plaas daar langs die strand
En 'n spogkar met twee perde nog daarby.
Wil jy nou vir ons kom wysmaak dat die lewe vir jou grys maak?
Nee, vir jou is dit so lekker soos pampoen.
Dis maar net die arme boer wat nou nie eens met sy roer
'n Bestaan kan maak nie, wat hy ook mag doen.’

Ag, ek hoor die goed rintinkel in die ou Slamaierwinkel;
Ek kan amper proe hoe soet die vye smaak.
En die mengelmoes van geure en van rooibont kopdoekkleure
Is genoeg om iemand amper mal te maak.
Maar dit is maar droomgesigte, wat verlig word deur die ligte
Van die sterretjies wat waghou oor die see;
Want ou Abdoel is mos dood en sy kinders algar groot -
En daar's niemand wat my nou groenvye gee.

C. Louis Leipoldt (1880 - 1947)

5 comments:

  1. Pragtige beelde wat so diep en eg Kaap is! Dankie.

    ReplyDelete
  2. I have not visited the Salt River Market since I was a child...really looking forward to doing so now that I have read your wonderful description. Pat K

    ReplyDelete
    Replies
    1. Yes Pat they are amazing as with Atlas Trading they are part of the old Cape Town in look and smells, its like walking back into yesterday.

      Delete
  3. Ek is mal oor Ondersteun Handelaars! Is dit nie hulle stalletjie as mens daar by die Neighbourgoods Market instap nie? Nie dat mens dit sou wou doen as jy om die draai in vrede jou aankope kan uitsoek nie...

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ja Rumina het die Ondersteun Handelaars stalletjie by die Neighbourgoods Market en Zubaida is by die Soutriviermark. Die Soutriviermark winkel het net daai ou wereldse gevoel wat my aantrek. Die gesels is die lekkerste want hierdie twee susters het 'n raat vir elke kwaal en dit is alles beskibaar in die winkel en nie een sluit pille of medisyne in nie.

      Delete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.