En so het herfs uiteindelik geariveer. Nie met koue dae en
reën nie, maar ‘n see van herfsblare wat die grasperk vol lê op uitermate warm
dae. Ek weet die winter kom maar dit is
slegs die lengte van die dae wat mens bewus maak daarvan.
Die natuur hou nie by die reëls nie. Die dag temperature is
nog steeds bo 30° Celsius wat die groente tuin en saad heeltemal deurmekaar
maak.
Gerugte van reën is skaars en enige paar druppels wat val is
‘n rede vir blydskap. Die tuin ruik na ryp kwepers, appels en koejawels dit is
amper soos om in ‘n vrugtebak rond te stap.
Vroeg oggend lê ek in die donker kamer en wag vir die
dagbreek om die ruimte om my te vergestalt in venster, deur, muur, kas, bed en
rietplafon.
Ek lê en wag vir die slag van die kerkklok onder in die
straat om vir my ‘n duideliker idee te gee van tyd. Terwyl die tiptol onseker
in die boord begin fluit, stop, wag net om die roetine te herhaal tot waneer hy
seker is die dag gaan breek.
Waar someroggende my al voor ses uur in die tuin in lok, vind ek my voor die dubbeldeure van die sitkamer op herfsoggende waar ek uitstaar na ‘n
tuin waar eens bekende plante, slegs swart silhoeëtte teen die horison vorm.
Die tuin is onbereikbaar ver in die donker. Ek mis die
oggende wat lig en verassend in gister se onthou verander het.
Boccherini se Kwintet
vir kitaar en strykinstrumente No. 4 in D majeur, vul die oggend skemer rondom my. Vir ‘n wyle staan ek net en luister voordat ek kombuis toe stap om die ketel aan te sit
vir tee. Die ryk reuk van die teeblare word deur die warm porselein
geaksentueer voordat ek die water oor dit gooi sodat hul geur al draaiend in
die teepot vrygestel word.
Die moutagtige Assam tee en marmalade op roosterbrood is
seker een van die heerlikste maniere om tyd te verwyl terwyl jy wag vir die
dagbreek wat gewoontlik met voëlgesang
aangekondig word.
Herfs is ‘n bedrywige tyd in die tuin. ‘n Hele somer se
baldadigheid moet onder beheer gebring word sodat die tuin gereed gemaak kan word
vir die lente.
Ek tel ‘n hand vol akkerblare op vir die bak op die kombuis
tafel en ‘n bak vol droë akkerblare raak plotseling ‘n heerlikheid wat die
herfs die huis in bring.
Herfs
Onder ’n
helder koeler lug
raak die
vrugte swaar aan tak
en loot. Die
somermusikante tuimel
uit die
notebalk van telefoondrade
en flikker
noord. Die son sak
na warmer
streke saans,
en die
laaste dae swerm ylings
soos bye in
die milde halflig.
Kontoere wat
na skadu’s ryp
en sap wat
óp in dun skeute stoot
en spring,
’n dieper stem
wat uitroep
in die appelboord:
Ja, ook
hierdie kort verblyf
skink op sy
tyd ’n speelse heuning. (Johann De Lange
1984)