Towerwater aan de breede, die naam spreek boekdele. Die naam
vertel die storie van water met ‘n magiese element wat uit, en aan die Breede
rivier vloei. Dit herinner aan die name van Leenplase wat 300 jaar gelede aan
vryburgers toegestaan is. Leenplase se name wat hulle ligging en topografie
beskryf het sodat die VOC onmiddelik ‘n idee kon kry waar die plaas geleë
was.
Name soos “de Roode Kley-gat geleegen aan de Breede Rivier”(MOOC8/16.54),
“d’Inhoek van de Breede Rivier”(MOOC8/49.17a), “d’Diepe Gat geleegen aan de
Berge Rievier[sic]”(MOOC8/14.10a), “de Twee Fonteinen geleegen op de Platteberg op
de Picquetberg”(MOOC8/28.6), “Nietgenaamd gel: aan ’t Warmebad bover de
Oliphants Rivier agter de Cango langs de Swarte Berg”(MOOC8/49.19) ens. In Afrikaans/Nederlands was die
moontlikhede eindeloos maar om jou plaas se naam vir iemand te sê
was soos om ‘n storie te vertel.
Die keuse van jou plaas se naam het ook ‘n storie aan jou
besoeker vertel. Die gebruik van die naam van sekere vertrekke wat beelde van
gasvryheid optower was ook nie onbekend nie. Wie sal nie by “de Combuijs
gelegen in de Cango”(MOOC8/633.55) en “'t Voorhuijs aan de Leeuwen Rivier”(MOOC8/15.46)
wil aandoen nie. Die name tower beelde
van ‘n warm kombuis met vars plaasbrood, smeltende plaasbotter en warm stoof
geroosterde koffie of ‘n soetsopie met ‘n krakerige koeksister in ‘n koel
voorhuis op.
Afrikaans is ‘n lewende taal met ryk beeldspraak. Om regte
Afrikaans te hoor is musiek vir my ore. Ek sien Afrikaans want dit is so
beskrywend. Audrey Blignault was een van daardie skrywers wat die informele essay
tot ‘n kuns kon verhef. Luister maar na haar inleidings paragraaf van die essay
“Die rooi granaat”.
“Dit was ‘n tarentaaldag met spikkelveër
reen oor die dorp en blink ligkrulletjies in die akkerbome, dié
dag toe ek vir die eerste keer geweet het hoe dit regtig is om te leef, dié
dag van die rooi granaat.”
Die rooi granaat raak die simbool van ontluikende
tienerliefde wat woordeloos met die geskenk van die eerste ryp granaat van die seisoen,
ontdek word. Audrey Blignault verhef die alledaagse tot iets baie meer. Die
stap van die twee tieners onder die seun se sambreel skooltoe word verweef met
beelde wat die leser saam met hulle onder die sambreel plaas.
Waneer hulle die skool
bereik word die deel van die sambreel slegs ‘n inleiding tot iets
spesiaal, as die seun die rooi granaat aan die meisie gee. Die rooi granaat
word verhef tot ‘n bekentenis met dieper betekenis waar woorde onnodig is.
Die meisie neem die granaat
en die leser ervaar saam haar die belangrikheid van hiedie woordelose
gebaar in die slot paragrawe.
“Pietie het dit vir my laat ryp word. Pietie het dit vir my
gepluk. Pietie het dit vir my blink gemaak. Pietie het dit aan my gegee.
“Dankie,” sê ek. “Dankie Pietie.”
En oor die granaat kyk ons mekaar woordeloos, begrypend
aan.”
Die plesier van die informele essay is dat dit die klein,
alledaagse vertroude dinge omskep in ‘n skouspel deur woorde.
So het die eenvoudige rooi granaat al menige skrywers geinspireer soos bv Kahlil Gibran, D
H Lawrence en vele meer. Elke skrywer vind ‘n simboliek om te koppel aan
hierdie magiese vrug.
In die Towerwater tuin is die rooi granaat eerstens ‘n vrug
wat vir my in sy eksotiese eenvoud die onthou van gister verbeeld. My grootword
landskappe is deurspek met granaatbome.
Ons het die granaat boom geplant om die vrugtetuin by
Towerwater histories korrek te hou maar op ‘n manier het ek ook my geskiedenis
in die tuin geplant. Die rooi granaat is ‘n plesier vrug wat altyd ‘n magiese
element in sy vorm, kleur en vrug vir my sal hou.
Die vrug is een van daardie eenvoudige alledaagse plesiere
wat soveel meer kan raak deur die verbeelding.
Die lewe is ‘n skouspel, dit hang net af hoe mens daarna kyk.
Ek sal nooit genoeg kry van die eenvoud in die lewe nie want daarin lê
die rykdom van geniet. Die seisoen van die rooi granaat is verby maar die kaal
boom in die boord is ‘n kleinood vir die winter.
Baie interesant dankie.
ReplyDelete