Dit is nog donker toe ek Saterdagoggend wakker word. Ek lê
vir ‘n wyle stil en wag vir die kerkklok se slaan om uit te vind hoe laat dit
is. Blykbaar het die laaste slag geslaan net voordat ek wakker geword het want
die verwagte slag of slae kom nie. Ek reik na die horlosie op die stinkhouttafel
langs my en sien dat dit net na half ses is.
Ek gly terug in die bed en wil my weer aan die slaap oorgee maar
die lekker insluimer ontwyk my. Ek oorweeg dit om op te staan vir ontbyt en om
my dag te begin maar besluit om ten minste nog ‘n uur te rus.
In die donker loop ek na die sitkamer met die koue Bataavse
teëls wat my laat besef dat winter nie heeltemal verby is nie. Ek plaas ‘n cd
in die cd speler en met Anne-Sophie Mutter se viool wat die Allegro beweging
van Mozart se viool konsert nommer 3 in G majeur, K216 die donker gevulde huis
‘n nuwe energie gee, klim ek terug in die bed.
Ek maak my oë toe en laat die luukse van die helder en
gelukkige solo viool gesprek met die orkes begeleiding alles raak vir ‘n wyle.
Ek stap met my kop deur die tuin en kyk en beplan alles wat moet gebeur die
naweek.
Kort voor sewe sien ek die son rondwaal in die boord waar hy
die bloeisels eerste ophelder voordat hy die skadus tussen die bome verdryf met
helder sonstrepe. Voordat hy by die slaapkamervenster kan inglip staan ek op en
maak al die gordyne en luike oop sodat die laaste note van die vioolmusiek by
die ligte getjirp van die suikerbekkies in die tuin aansluit.
Die effense soet aromatiese reuk van die Java OP Malabar
teeblare vul die kombuis toe ek die kookwater in die warm teepot gooi. Terwyl
die botter in die roosterbrood in smelt skep ek ‘n lepel vol marmalade met
deurskynende skil wat in die helder jellie vasgevang is op elke sny. Ek byt in
die soet verleiding in en maak my oë behaaglik toe net om my sorge dikbek by
die deur te sien uitstap toe ek hulle oopmaak.
Die oggend is warm en die reuke van die tuin hang lig in die
lug. Met die uitstap by die kombuis ruik ek die Portwyn Magnolia wat diep wynrooi
agter die kothuis blom. Die boord is gevul met die sagte ruik van appelkoos
bloeisels wat met die reuk van buurvrou se jasmyn en verbleikblomme meng waar
dit speels oor die pad aangewaai kom.
Ek besef dat die sitrus geoes moet word want die bome begin
al knoppe maak en sal in twee weke swaar in die blom staan. Die tuin sal weer
gevul word met die reuk van sitrus bloeisels.
Ek herinner myself om hierdie jaar sitrus bloeisel likeur te maak.
Die lekkerste is waneer ‘n mens die kleur en reuk van ‘n vrug
of blom kan vasvang in ‘n smaak. Die Towerwater tuin is ‘n fees van reuke,
kleure en smake wat ‘n mens verlei deur al jou sintuie.
Ek pluk ‘n mandjie lemoene en suurlemoene vir marmelade maak
later en met sitrusolie op my hande begin ek my dagtaak.
Die reuk van buurvrou se verbleikblomme is in my neus soos
herinneringe van vervloë lentes wat met elke jaar van diep pers na wit
verbleik.
Nota: Die verbleikblomme staan bekend as “yesterday, today and tomorrow” in Engels ek dink die naam verbleikblom is so gepas want hulle
begin as diep pers wat oor dae na wit verbleik.
Pragtige beskrywing. Dit wil voorkom of skakerings van pers die tuin oorheers. Wonderlik hoe die natuur self sy vertonings koordineer.
ReplyDelete