Die laat lente staan vasgevang in pers op die pad tussen
Bonnievale en Robertson in ‘n laan
van Jakarandas. Ek probeer die wonder van die ervaring vasvang met my kamera
maar die magiese van die pers bo my en onder my voete ontwyk my lens. Die reuk
van die jakaranda blomme kom lê soet en ligpers in my neus waar ek deur die
laning stap en fotos neem.
Die jakarandas is maar net die begin van ‘n fees van visuele
plesier wat elke naweek die pad huis toe versier deur die jaar. Die rye en rye rooi kannas is
besig om die pad in Kersfees rooi en groen te tooi en sal teen Kersfees weer
mure van rooi teen die groen wingerde en boorde staan.
Die pad huis toe is een van die mooistes en mens arriveer by
die huis verkwik deur die skoonheid van die vallei. Waar die vallei ‘n mens
dwing om die mooi te ervaar en gedwonge ‘n mens se gedagtes verander na die
wonder en mooi van die natuur en lewe. Die kop skuif verander na ‘n hart skuif
waneer ‘n mens deur Towerwater se hekke ry.
Skielik kom lê die plesier onder jou hart met die wete dat
hierdie lappie vrede vir ‘n naweek net joune is. Die jakaranda tapyt wapper kortstondig van
die teer af op waneer die bakkie daaroor ry net om weer die pad sag en ligpers
agter ons te laat.
Ek onthou as kind hoe versigtig ek altyd oor die jakaranda
blomme op die gras geloop het by die munisipale swembad in Worcester. Ek is menigmaal
deur ‘n by angel verras waneer ek op ‘n by getrap het wat na stuifmeel in een
van die blomme op die grond gesoek het.
Die uitrek van die angel en die pynvolle hardloop na die
veilige lafenis van die water was amper een beweging.
Met voetsole wat die sagte pers tapyt van my jeug onthou stap ek deur die hek by
Towerwater en die lekker van die tuiskoms kom lê warm binne my.
Alle dank aan die boerderye al langs die pad wat vir hierdie pragtige landskap kuns sorg. Mooi vasgevang Thys.
ReplyDelete