Thursday 5 October 2017

Gods water oor Gods akker

Die dae op Towerwater is besig om langer te raak. Ons ariveer deesdae saans nog voordat dit begin skemer raak. Die ekstra daglig gee ons ‘n kans om vinnig deur die tuin te loop en te sien hoe die nuwe saailinge vaar.


Ons het selfs die kans om ‘n pluksel ertjies te pluk vir aandete. Watter beter manier is daar om by die huis te kom en jou eie organise groente te pluk vir aandete.

Pers ertjies
Die nuwe groente is besig om op te kom en selfs die Hereboontjie het al begin gesig wys. Ongelukkig het die bure se kat besluit om die boontjiebedding in sy sandput te verander. Hier en daar het ‘n Hereboontjie dit nie oorleef nie en ek loop met moordgedagtes in my tuin rond.


Meeste van die vrugtebome het al klein vruggies aan. Die boord se vloer is ‘n bedrywigheid van bye waar hulle van kappertjie tot kappetjie werk. Die kappertjies is besig om die hele boord vloer vol te rank. Volgende jaar gaan daar selfs meer wees.


Die kappertjie saad was in die grond wat uit die rosarium gekom het en wat ons gebruik het om die damme om die bome te herstel. Dit is ‘n ontploffing van geel en oranje waar die blom ranke kruis en dwars oor die boordvloer reik. In plaas van die ranke te beheer het ons besluit om die natuur sy gang te laat gaan. Amper ‘n geval van Gods water oor Gods akker.


Daar is niks op aarde wat ‘n stil somerdag so lomerig kan maak soos die gekoer van tortelduiwe in die bloekoms oorkant die pad nie. Die voëls geniet die langer dae en ‘n mens kan die tiptol al van voor vyf in die oggend in die tuin hoor.

Die diep groen van ‘n jangroentjie staan uit teen die sagte groen van die moeraseik se eerste lente blare. Dit is ‘n verassing en mens kan nie help om ‘n oomblik stil te staan en hom te bewonder waar hy sy maat roep voordat hy soos ‘n groen flits verdwyn nie.


Towerwater voel vars en nuut waar die deure en vensters oop staan om die huis te vul met sonskyn; waar ‘n ligte bries die laaste koue van die winter uit die huis uit kan jaag.


Die granadilla gaan nog onverpoos voort met vrugte dra en ons kon ons eerste papaja pluk van die drie opslagbome agter die kothuis. Die lente staan cliviageel in die blombedding agter die kothuis terwyl tabakblomme in hoogte kompeteer met die ysberg rose.


Die roosbome in die rosarium hou baie belofte in. Ons kan nie wag om te sien hoe hulle gaan reageer met hulle nuwe deklaag van hout snippers nie.
Waar ons sit en braai in die boord in ‘n see van kappertjies en vrugtebome wat vol klein vruggies is, lyk dit of ons ‘n heerlike somerseisoen gaan hê. Die dreigende water tekort is voordurend in ons gedagtes. Ons weet ons sal seker moelike besluite moet neem rakende die tuin. Ons het nog al die jare spaarsamig gebruik gemaak van ons water.


Ek het oorweeg om nie groente te plant vir die somer seisoen nie maar het besluit om nie die bobejaan agter die bult te gaan haal nie. Dalk kry ons goeie reën in die somer en dan staan my beddings leeg.


Towerwater is besig om ons harde werk van die laaste twee maande met oorgawe aan ons terug te gee in die tuin en huis. Ons besef elke dag hoe belangrik dit is om nou te leef en die lewe te geniet. Iets wat baie maklik is in hierdie stuk kappertjie gevulde tuin van ons.

1 comment:

  1. Pragtig. Laat mens besef hoe 'n tuin 'n totale belewenis kan wees. 'n aktiewe doelgerigte betrokkenheid met die lewe!

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.