Vars gebakte Msbolletjies |
Regte tradisionele Kaapse mosbolletjies is
al beplan met die plant van die ry Hanepoot druiwe langs die groente tuin.
Deesdae, het kos mos nie meer ‘n seisoen identiteit nie. Alles is mos heeljaar
beskikbaar. Soos mosbolletjies op winkel rakke, seisoen in en seisoen uit. Niemand weet meer van die ritueel van in
seisoen eet nie.
Vars Hanepoot mos |
Tradisionele mosbolletjies was ‘n egte
Kaapse seisoen lekkerny, eie aan die pars tyd. Waneer mos beskikbaar was, is
daar mosbolletjies vir nou se bederf gemaak. Mosbeskuit is vir môre se lekker gemaak as die verlang na ‘n blink pens mosbolletjie te
groot geraak het en die pars seisoen nog ver was.
Ons het al vergeet dat alles ‘n tyd gehad
het en dat die lekker van geregte halfpad in die onthou gelê het. Die onthou het op jou tong kom lê saam met die uitsien na die volgende seisoen. Die reuk van mos,
meel en anys wat vroeg herfs die kombuis kom vul soos geliefdes wat lanklaas
kom kuier het.
En as die pan boepens bolletjies uit die
oond kom, is al die lekker van gister se seisoene vars en warm in die oomblik.
Dit is of al jou geluk in een warm mosbolletjie vas gevang is.
Vir my om dus mosbolletjies van ons eie
Hanepoot druiwe se mos te maak, was lekker. Maar nog lekkerder was die onthou
van tradisies en die kans om dit te laat herleef.
Om mosbolletjies te maak, moes ek eers mos
maak. Dit is waar die maak van mosbolletjies begin. Ek moes leer hoe om mos te
maak. Resepte vir traditionele mosbolletjies was volop, maar die skryfsters het
duidelik verwag dat jy weet waar om mos te kry. En tereg was dit nie ‘n probleem
in die Kaap nie. Almal het iemand op ‘n wynplaas geken wat met ‘n ruim hart vir
jou die beker mos sou skenk.
Vars Hanepoot korrels, Hanepoot sap, gistende Hanepoot mos, 'n bottel vars mos |
Meel word gesif, die mos word bygevoeg, die meel bo-op die mos begin te kraak, die deeg |
Met die mos gereed, moes ons nog net ‘n
resep kry om die mosbolletjies te maak. Na ons elke resep wat ons kon kry
gebestudeer het, het ons besluit om ‘n kombinasie van die resepte uit die
kookboeke, Om die tafel in ou Stellenbosch, gedruk in 1987 en Outydse
Reseppies, gedruk in 1952, te gebruik.
Towerwater Mosbolletjies
Bestandele:
2.5kg steen-gemaalde Koekmeelblom
1t (5ml) Sout
1 E (15ml) Anyssaad
3 koppies (750ml) Hanepoot mos
1 koppie (250g) Botter
2 koppies Suiker
2 koppies (500ml) Melk
2 Eiers
2.5kg steen-gemaalde Koekmeelblom
1t (5ml) Sout
1 E (15ml) Anyssaad
3 koppies (750ml) Hanepoot mos
1 koppie (250g) Botter
2 koppies Suiker
2 koppies (500ml) Melk
2 Eiers
Metode:Sif die meel in 'n mengbak, maar los sowat 'n halwe koppie oor in die sif. Gooi die sout en anys oor. Maak ‘n holte in die middel van die meel en gooi die mos daarin. Strooi die res van die meel in die sif bo-oor die mos en laat ongeveer 1 uur lank op ‘n louwarm plek rys totdat
die meelblom bo-op vol barsies is.
Verhit die suiker en die botter oor lae
hitte totdat die botter gesmelt is. Koel af tot so louwarm. Voeg die lou
melk by die bottermengsel. Klits die eiers by die afgekoelde mengsel. Voeg hierdie
mengsel by die meel en knie goed. Smeer ‘n bietjie botter oor die deeg, bedek
en laat oornag rys. Maak die deeg die volgende oggend in bolletjies op van omtrent 100g elk en pak
styf teen mekaar in panne. Omtrent 44 bolletjies is moontlik. Laat rys tot dubbel die hoogte, smeer met ‘n bietjie louwarm melk en bak vir ongeveer 1 uur teen 180°C. Haal uit, laat effens afkoel.
Om Mosbolletjie beskuit te maak, breek die bolletjies
los van mekaar en sny elkeen in vier stukke. Droog by 100°C vir 4-6
uur of oornag in ‘n warm laai.
Keith het die maak van die deeg, bolletjies
en die bak daarvan bestuur. Ek was dus die brouer en hy die bakker wat egte
tradisionele mosbolletjies gemaak het. Vanaf die druiwe aan die wingerdstok,
tot mos, deeg, vars gebakte mosbolletjies en uiteindelik beskuit, was dit voorwaar ‘n
egte Towerwater ervaring.
Die vraag bly staan, is dit werklik
mosbolletjies indien daar nie mos in is nie?
Die regte naam vir mosbolletjies sonder mos moet sekerlik anysbolletjies
wees want dit is die eintlike bestandeel wat hom sy identiteit gee.
Click here for the English version - Grape must and mosbolletjies
Baie dankie vir die deel van hierdie resep. Die instruksies is baie duidelik. My mos was ‘n groot sukses. Die mosbolletjies ruik en proe heerlik. As jy regte, egte mosbolletjies wil proe, maak hierdie resep. 5/5
ReplyDeleteThys said...
DeleteEk is bly jy kon die resep gebruik Elmarie. Ek stem saam met jou, mosbolletjies gemaak met regte mos is 'n spesiale smaak en reuk ervaring. Veral as jy jou eie mos ook maak.
Waar kan ek egte mos key asb.
ReplyDeleteGroete
Die meeste kelders is tans besig om te pars en moontlik sal hulle bereid wees om vir jou 'n bottel te gee. Indien jy wyn druiwe kan kry, verkieslik hanepoot, kan jy jy jou eie maak soos beskryf hier bo.
DeleteWaar kan ek n resep kry vir die pit rosyne brousel on jou eie mos te maa.
ReplyDeleteDankie
Rosyne mos (as jy nie regte mos in die hande kry nie)
Delete1.5 liter kookwater
250 g gekneusde rosyne
½ koekie saamgepersde gis of ½ pakkie kitsgis
Meng gis, water en rosyne. Laat staan 24 uur.
Giet deur gaasdoek en gebruik in plaas van mos.
Hierdie resep het ek gesien op http://www.foodloversrecipes.com/2019/04/mosbolletjies-met-rosynemos/
500 g Rosyne (met pitte)
Delete1.5 liter (6 koppies) Water
½ koekie gis (droog of saamgepers) of 7,5 ml ( ½ eetl) aktiewe droë gis
1. Stamp die rosyne stukkend en moenie die pitte verwyder nie. Kook rosyne 10 minute in water en laat afkoel tot louwarm.
2. Plaas rosyne in ‘n emaljekan of –emmertjie en voeg 125 ml ( ½ koppie) van die louwarm water, gemeng met die giskoekie, by. Roer goed en laat op ‘n warm plek staan tot die rosyne bo-op dryf. Dit sal 24 tot 36 uur duur.
3. Syg die vloeistof van die rosyne deur ‘n klam kaasdoek en gebruik dit vir die suurdeeg. Hierdie resep is op https://kreatiewekosidees.com/2013/04/08/mosbolletjies/
My eerste poging was n groot sukses,maar my 2de poging wou die deeg nie in die panne rys nie,enige raad of wenk asb.
ReplyDeleteDankie
Een rede hoekom die deeg nie wou rys nie kan moontlik wees dat die gis inhoud van die mos nie reg was nie. Waneer mens met gis bak is daar verskeie faktore wat die gis kan beinvloed.
DeleteWanneer ek mos maak met stingel rosyne, moet ek gis byvoeg of nie.
ReplyDeleteEk het self nog nooit mos gemaak met rosyne nie maar ek sien in die rosyne mos resepte hierbo dat hulle gis by die mengsel voeg.
DeleteGoeie dag Thys,
ReplyDeleteIs daar dalk n WhatsApp nommer waar ek met jou kan gesels asb.
Dankie
Groete Francois
Goeie dag Francois kan jy vir my DM op die Towerwater Facebook blad?
Deletehttps://www.facebook.com/TowerwateraandeBreede/
Dankie
Thys
My Xhosa nanny gedink ek bak vetkoek, en 'n paar vir ons in olie gebak! Lol. Toe rol ek dit in suiker... eintlik heel lekker.
ReplyDeleteAdél ek is seker dit was lekker. Dit laat my dink aan Maleise koesisters of bollas.
DeleteThys ek will n stuiwer ingooi, sekerlik is n omelet sonder eiers nie n omelet nie ne? Seker dieselde, mosbeskuit sonder mos?
ReplyDeleteEk is geneig om saam met jou te stem.
DeleteEk kry nerens hanepoot druiwe of rosyne nie. Het altyd gebak, want my kinders will geen ander beskuit eet nie. Dankie ook vir jou resep. Rika Klopper
ReplyDeleteHallo Rika, ek is jammer jy sukkel om hanepoot druiwe of rosyne te kry. Dit is frustrerend indien mens nie 'n bestandeel in die hande kan kry nie. Ek hoop die inligting in my epos aan jou kan moontlik help. Ek is bly jy geniet die resep. Beste groete Thys
DeleteHallo Rika
DeleteEk het vanoggend 500g hanepoot rosyne by CapeDry in Montagu gekoop vir R52. Hulle is tans besig om die nuwe voorraad hanepoot rosyne te verpak. Ek sien dit is nog nie op hulle aanlyn winkel nie maar ek is seker indien jy hulle kontak sal hulle jou kan help. Hulle aanlyn winkel se skakel is https://onlineshop.capedry.co.za/ of jy kan hulle moontlik kontak via hulle Facebook blad https://www.facebook.com/CapeDriedFruitPackers?mibextid=ZbWKwL
Beste groete
Thys
Ek het n 2l mos wat nou al seker 3 maande in die yskas staan. Moet die mos nou eers weer gis voor ek dit gebruik? Ek is nie seker of die mos se gis inhoud nog reg is nie. Hoe maak ek.
ReplyDelete