Showing posts with label resep vir mosbolletjies. Show all posts
Showing posts with label resep vir mosbolletjies. Show all posts

Thursday, 9 April 2020

Mos en mosbolletjies

Met die laaste pluksel Hanepoot uit die tuin, het ek besluit om mos te maak vir mosbolletjies. Ek wil nog graag moskonfyt maak maar het die plan vir ‘n ander jaar gebêre. Moskonfyt het baie mos nodig want jy kook vyf liter mos om een liter moskonfyt te kry. Die laaste pluksel Hanepoot sou genoeg mos kon maak vir twee baksels mosbolletjies maar nie genoeg vir moskonfyt nie.

Vars gebakte Msbolletjies
Regte tradisionele Kaapse mosbolletjies is al beplan met die plant van die ry Hanepoot druiwe langs die groente tuin. Deesdae, het kos mos nie meer ‘n seisoen identiteit nie. Alles is mos heeljaar beskikbaar. Soos mosbolletjies op winkel rakke, seisoen in en seisoen uit.  Niemand weet meer van die ritueel van in seisoen eet nie.

Vars Hanepoot mos
Ek is seker daardie mosbolletjies op die winkel rak het nog nooit mos gesien nie. Selfs nie eers die soort mos wat met pitrosyne buite seisoen gemaak word nie. Vandag se mosbolletjies is ook nog net mosbolletjies in naam.


Tradisionele mosbolletjies was ‘n egte Kaapse seisoen lekkerny, eie aan die pars tyd. Waneer mos beskikbaar was, is daar mosbolletjies vir nou se bederf gemaak. Mosbeskuit is vir môre se lekker gemaak as die verlang na ‘n blink pens mosbolletjie te groot geraak het en die pars seisoen nog ver was.

Ons het al vergeet dat alles ‘n tyd gehad het en dat die lekker van geregte halfpad in die onthou gelê het. Die onthou het op jou tong kom lê saam met die uitsien na die volgende seisoen. Die reuk van mos, meel en anys wat vroeg herfs die kombuis kom vul soos geliefdes wat lanklaas kom kuier het.


En as die pan boepens bolletjies uit die oond kom, is al die lekker van gister se seisoene vars en warm in die oomblik. Dit is of al jou geluk in een warm mosbolletjie vas gevang is.

Vir my om dus mosbolletjies van ons eie Hanepoot druiwe se mos te maak, was lekker. Maar nog lekkerder was die onthou van tradisies en die kans om dit te laat herleef.

Om mosbolletjies te maak, moes ek eers mos maak. Dit is waar die maak van mosbolletjies begin. Ek moes leer hoe om mos te maak. Resepte vir traditionele mosbolletjies was volop, maar die skryfsters het duidelik verwag dat jy weet waar om mos te kry. En tereg was dit nie ‘n probleem in die Kaap nie. Almal het iemand op ‘n wynplaas geken wat met ‘n ruim hart vir jou die beker mos sou skenk.

Vars Hanepoot korrels, Hanepoot sap, gistende Hanepoot mos, 'n bottel vars mos
So begin ons mosbolletjie ervaring met die pluk van vyf kilogram Hanepoot druiwe. Was die druiwe en pluk die korrels af in ‘n emmer. Pars al die sap uit die korrels uit. Ek het sommer my hande gebruik om al die korrels stukkend te kry sonder om die pitte te beskadig. Dit klink makliker as wat dit is. Mens moet druk en vrywe om al die sap uit te kry. Wanneer al die sap uitgedruk is, plaas ‘n deksel los bo op die emmer. Sit die emmer op ‘n warm plek en laat die mos staan vir so twee en ‘n halwe dag. Waneer al die korrels bo dryf en skuim begin te vorm, is jou mos gereed. Moenie jou mos te lank laat gis nie, want dan verloor dit sy soet smaak en begin dit wyn se kant toe staan.

Meel word gesif, die mos word bygevoeg, die meel bo-op die mos begin te kraak, die deeg 
Met die mos gereed, moes ons nog net ‘n resep kry om die mosbolletjies te maak. Na ons elke resep wat ons kon kry gebestudeer het, het ons besluit om ‘n kombinasie van die resepte uit die kookboeke, Om die tafel in ou Stellenbosch, gedruk in 1987 en Outydse Reseppies, gedruk in 1952, te gebruik.

Towerwater Mosbolletjies
Bestandele:
2.5kg steen-gemaalde Koekmeelblom
1t (5ml) Sout
1 E (15ml) Anyssaad
3 koppies (750ml) Hanepoot mos
1 koppie (250g) Botter
2 koppies Suiker
2 koppies (500ml) Melk
2 Eiers

Metode:Sif die meel in 'n mengbak, maar los sowat 'n halwe koppie oor in die sif. Gooi die sout en anys oor. Maak ‘n holte in die middel van die meel en gooi die mos daarin. Strooi die res van die meel in die sif bo-oor die mos en laat ongeveer 1 uur lank op ‘n louwarm plek rys totdat die meelblom bo-op vol barsies is.

Verhit die suiker en die botter oor lae hitte totdat die botter gesmelt is. Koel af tot so louwarm. Voeg die lou melk by die bottermengsel. Klits die eiers by die afgekoelde mengsel. Voeg hierdie mengsel by die meel en knie goed. Smeer ‘n bietjie botter oor die deeg, bedek en laat oornag rys. Maak die deeg die volgende oggend in bolletjies op van omtrent 100g elk en pak styf teen mekaar in panne. Omtrent 44 bolletjies is moontlik. Laat rys tot dubbel die hoogte, smeer met ‘n bietjie louwarm melk en bak vir ongeveer 1 uur teen 180°C. Haal uit, laat effens afkoel.


Om Mosbolletjie beskuit te maak, breek die bolletjies los van mekaar en sny elkeen in vier stukke. Droog by 100°C vir 4-6 uur of oornag in ‘n warm laai.


Keith het die maak van die deeg, bolletjies en die bak daarvan bestuur. Ek was dus die brouer en hy die bakker wat egte tradisionele mosbolletjies gemaak het. Vanaf die druiwe aan die wingerdstok, tot mos, deeg, vars gebakte mosbolletjies en uiteindelik beskuit, was dit voorwaar ‘n egte Towerwater ervaring.

Die vraag bly staan, is dit werklik mosbolletjies indien daar nie mos in is nie?  Die regte naam vir mosbolletjies sonder mos moet sekerlik anysbolletjies wees want dit is die eintlike bestandeel wat hom sy identiteit gee.

Click here for the English version - Grape must and mosbolletjies