![]() |
Vars gebakte Msbolletjies |
Regte tradisionele Kaapse mosbolletjies is
al beplan met die plant van die ry Hanepoot druiwe langs die groente tuin.
Deesdae, het kos mos nie meer ‘n seisoen identiteit nie. Alles is mos heeljaar
beskikbaar. Soos mosbolletjies op winkel rakke, seisoen in en seisoen uit. Niemand weet meer van die ritueel van in
seisoen eet nie.
![]() |
Vars Hanepoot mos |
Tradisionele mosbolletjies was ‘n egte
Kaapse seisoen lekkerny, eie aan die pars tyd. Waneer mos beskikbaar was, is
daar mosbolletjies vir nou se bederf gemaak. Mosbeskuit is vir môre se lekker gemaak as die verlang na ‘n blink pens mosbolletjie te
groot geraak het en die pars seisoen nog ver was.
Ons het al vergeet dat alles ‘n tyd gehad
het en dat die lekker van geregte halfpad in die onthou gelê het. Die onthou het op jou tong kom lê saam met die uitsien na die volgende seisoen. Die reuk van mos,
meel en anys wat vroeg herfs die kombuis kom vul soos geliefdes wat lanklaas
kom kuier het.
En as die pan boepens bolletjies uit die
oond kom, is al die lekker van gister se seisoene vars en warm in die oomblik.
Dit is of al jou geluk in een warm mosbolletjie vas gevang is.
Vir my om dus mosbolletjies van ons eie
Hanepoot druiwe se mos te maak, was lekker. Maar nog lekkerder was die onthou
van tradisies en die kans om dit te laat herleef.
Om mosbolletjies te maak, moes ek eers mos
maak. Dit is waar die maak van mosbolletjies begin. Ek moes leer hoe om mos te
maak. Resepte vir traditionele mosbolletjies was volop, maar die skryfsters het
duidelik verwag dat jy weet waar om mos te kry. En tereg was dit nie ‘n probleem
in die Kaap nie. Almal het iemand op ‘n wynplaas geken wat met ‘n ruim hart vir
jou die beker mos sou skenk.
Vars Hanepoot korrels, Hanepoot sap, gistende Hanepoot mos, 'n bottel vars mos |
Meel word gesif, die mos word bygevoeg, die meel bo-op die mos begin te kraak, die deeg |
Met die mos gereed, moes ons nog net ‘n
resep kry om die mosbolletjies te maak. Na ons elke resep wat ons kon kry
gebestudeer het, het ons besluit om ‘n kombinasie van die resepte uit die
kookboeke, Om die tafel in ou Stellenbosch, gedruk in 1987 en Outydse
Reseppies, gedruk in 1952, te gebruik.
Towerwater Mosbolletjies
Bestandele:
2.5kg steen-gemaalde Koekmeelblom
1t (5ml) Sout
1 E (15ml) Anyssaad
3 koppies (750ml) Hanepoot mos
1 koppie (250g) Botter
2 koppies Suiker
2 koppies (500ml) Melk
2 Eiers
2.5kg steen-gemaalde Koekmeelblom
1t (5ml) Sout
1 E (15ml) Anyssaad
3 koppies (750ml) Hanepoot mos
1 koppie (250g) Botter
2 koppies Suiker
2 koppies (500ml) Melk
2 Eiers
Metode:Sif die meel in 'n mengbak, maar los sowat 'n halwe koppie oor in die sif. Gooi die sout en anys oor. Maak ‘n holte in die middel van die meel en gooi die mos daarin. Strooi die res van die meel in die sif bo-oor die mos en laat ongeveer 1 uur lank op ‘n louwarm plek rys totdat
die meelblom bo-op vol barsies is.
Verhit die suiker en die botter oor lae
hitte totdat die botter gesmelt is. Koel af tot so louwarm. Voeg die lou
melk by die bottermengsel. Klits die eiers by die afgekoelde mengsel. Voeg hierdie
mengsel by die meel en knie goed. Smeer ‘n bietjie botter oor die deeg, bedek
en laat oornag rys. Maak die deeg die volgende oggend in bolletjies op van omtrent 100g elk en pak
styf teen mekaar in panne. Omtrent 44 bolletjies is moontlik. Laat rys tot dubbel die hoogte, smeer met ‘n bietjie louwarm melk en bak vir ongeveer 1 uur teen 180°C. Haal uit, laat effens afkoel.
Om Mosbolletjie beskuit te maak, breek die bolletjies
los van mekaar en sny elkeen in vier stukke. Droog by 100°C vir 4-6
uur of oornag in ‘n warm laai.
Keith het die maak van die deeg, bolletjies
en die bak daarvan bestuur. Ek was dus die brouer en hy die bakker wat egte
tradisionele mosbolletjies gemaak het. Vanaf die druiwe aan die wingerdstok,
tot mos, deeg, vars gebakte mosbolletjies en uiteindelik beskuit, was dit voorwaar ‘n
egte Towerwater ervaring.
Die vraag bly staan, is dit werklik
mosbolletjies indien daar nie mos in is nie?
Die regte naam vir mosbolletjies sonder mos moet sekerlik anysbolletjies
wees want dit is die eintlike bestandeel wat hom sy identiteit gee.
Click here for the English version - Grape must and mosbolletjies