Thursday 12 May 2016

Oom en Tante sop

Dit is seker net in Afrikaans wat geregte na familie kan klink. Oom en tante sop is een van die geregte wat kom kuier in die herfs en winter. Soos die dae korter en kouer raak word maaltye gekenmerk deur geregte wat stadiger en langer tye in dik boom swart ysterpotte spandeer.


Oom en tante sop
Bredies en soppe wat stadig op oop vlamme prut en wat die kombuis vir ure vul met hul verleiende swaar reuke van speserye en kruie, laat mens instinktief die soet hanepoot, muskadel of port in die kelder gaan haal.

Oom en tante sop soos ek verstaan is ‘n tradisionele gereg uit die Overberg en met die weer wat beloftes van reën inhou besluit ek om ‘n pot oom en tante sop te maak.

Gebreekte mielies en boontjies
Oom en tante sop word gemaak van gebreekte wit mielies (of soos ons hom ken kaboem mielies) en boontjies in gelyke hoeveelhede.  Oom en tante hou van murg bene en ‘n varksooltjie.  Gee vir hom so ‘n lekker kruie ruikertjie (bouquet garni) met sout en peper en jy wens dit is vir altyd winter.


Murgbene en 'n varksooltjie
Saam met oom en tante het ek besluit om ‘n brood van steengemaalde meel vanuit Heidelberg te maak so om sommer so in die omgewing te bly kuier met my bestandele vir die gereg.

Brood van steengemaalde meel
So sit ons toe op ‘n reënerige naweek en kuier om die geelhout kombuistafel met oom en tante in ‘n kombuis wat ruik na vars gebakte brood wat jou sommer na jou ma laat verlang.

1 comment:

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.