Jare terug, het ek die voorreg gehad om Betsie Rood te
ontmoet. Ek het in daardie tyd die lesings en uitstappies vir die Volksboukundige
Vereniging van Suid Afrika beplan en gereƫl. Alhoewel die vereniging se
belangstelling in die volksboukundige argitektuur is, wou ek aspekte inbring
wat moontlik die argitektuur kon beinvloed het. Ek wou die leefstyl en kultuur
van die inwoners van volksboukundige wonings belig.
Ek het besluit om Betsie Rood te nader om te gesels oor haar
grootword jare op hul familie plaas op die Weskus. As ‘n skrywer en navorser
van kos en medisyne tradisies in Suid Afrika, was sy my keuse as spreker vir
die lesing.
|
Hertzoggies |
Na ek ‘n afspraak gemaak het, het ek haar besoek by haar
woonstel in die Tuine, Kaapstad. Met die beeld van die foto op die agterkant van haar
boeke in my kop het ek aan die deur geklop. Die persoon wat die deur oopgemaak het was ouer
as die fotos maar beslis die elegante dame wat uit die fotos staar. Sy was statig
en duidelik ‘n dogter van een van die bekendste families van die Weskus, die
Laubschers.
|
Maria Elizabeth
Petronella "Betsie" Rood - 1916 tot 2003 |
Die woonstel het nie vir my die vrou wat ek ontmoet het se
teenwoordigheid geregverdig nie. Alhoewel keurig gemubileer met familie
erfstukke het ek haar eerder gesien in ‘n groot volksboukundige huis met sy
witgekalkte mure en rietdak waar sy vorstelik die swaar deur op die stoep
oopmaak om jou in die koel huis in te verwelkom.
Ons het onmiddelik lekker gesels. Sy het tee en tuisgebak
bedien in tradisionele blou en wit tee goed. By die geelhout tafel het sy my
van haar grootword jare op die plaas Uitvlug vertel. Sy is gebore op die plaas
Langlaagte op 21 Junie 1916. Maar op vyfjarige ouderdom, het hulle na die
familieplaas Uitvlug getrek. Die stories was bekend, maar ek het baie nuwe insigte
gekry oor die lewenstyl in ‘n volksboukundige woning. Die argitektuur kom tog
tot sy reg deur die mense wat daarin woon en werk.
Sy het my vertel van die woning en buitegeboue. Die
vleiskamer, werkskamer, melkkamer, waenhuise, dorsvloer, kafhok en koringmeul.
Dan was daar die varkhokke, koeistalle en krale. Dit was ‘n plaas ryk aan
tradisies en aktiwiteie.
Sy was inskiklik met my idee vir ‘n lesing vir die
Volksboukundige Vereniging maar het versoek dat sy dit in Afrikaans wou gee. Nie
omdat sy nie Engels kon praat nie. Maar sy het gevoel dat dit beter sou wees om
‘n lesing oor ‘n oorheersende Afrikaanse leefstyl in Afrikaans te gee. Ek
het met haar saamgestem. Met woorde soos misvloer, solder, soldertrap en
brandsolder, pas dit by die wit afgekalkte huise.
Nadat ek die komitee oorreed het dat ons ‘n Afrikaanse
lesing aan ‘n oorheersende Engelse gehoor aanbied, was dit naelbyt om te sien
hoe suksesvol dit sou wees. Die lesing was ‘n sukses en almal het dit terdee
geniet.
In Julie 2002 publiseer sy die boek ‘Uit die waaisand en die
kalkklippe’ waarin sy haar grootword jare op die plaas Uitvlug beskryf. Die
boek bevat kosbare beskrywings van die plaas geboue en aktiwiteite van elke
buitegebou ensovoorts. Ek wil graag dink dat haar lesing aan die
Volksboukundige vereniging die inspirasie vir die boek was.
Na haar dood in 2003, was ek eendag in Select Books in
Langstraat, Kaapstad. Hier het ek gereeld deur hul versameling gekyk en nooit
sonder ‘n boek uit die winkel geloop nie. Hul Africana versamelings is seker
van die beste. Ek kry die besondere dag die kookboek, Die Praktiese Kookboek vir
Suid-Afrika deur S. van H. Tulleken, eerste gedruk in 1922, met ‘n voorwoord
deur Isie K Smuts. Isie, was die vrou van Jan Smuts wat eerste minister van
Suid Afrika was in 1919-1924 en weer in 1939-1948.
Ek het lank gesoek vir die boek. Maar wat my vonds soveel
meer kosbaar gemaak het is dat die boek aan Betsie Rood behoort het. Die boek
was duidelik deeglik gebruik. Daar is verskillende tipe merkies langs resepte
om hul belangrikheid of gewildheid vir die gebruiker aan te dui. Dit was asof
ek die geheime skrif van een van Suid Afrika se voorste koskenners en navorsers
probeer ontsyfer het.
Duidelik was die boek ‘n belangrike bron vir haar en het sy
dit gebruik in haar navorsing met die skryf van haar vele kookboeke. Die Towerwater biblioteek kan spog met van Betsie Rood se eg Suid Afrikaanse kookboeke. Hulle beskrywing van eg Suid Afrikaanse kos is van onskatbare waarde en het vir my ‘n verwysings bron geword.