Wednesday 10 June 2020

Outydse soetkoekies

Gedurende die tydperk van isolasie en beperkte besoeke aan winkels en die supermark, het ons geleer om meer tuisgemaakte produkte voor te berei en geniet. Ons het laas in Desember 2019 ‘n winkelbrood gekoop. Heeltemal reg, ons het toe nog nie geweet wat wag vir ons met die virus wat in China kop uitgesteek het nie. Maar reeds toe het Keith begin soek na gesonder opsies vir winkelbrood. Winkelbrood is gestroop van alles wat goed is in brood.


Keith se brood bakkery het ons natuurlik goed te pas gekom gedurende die grendeltyd. Met net ‘n paar frustrerende tekorte aan steengemaalde meel aan die begin van die isolasie periode. Die reuk van varsgebakte brood het die kombuis gevul met nostalgiese herinneringe van kleintyd.

Die Skrif sê, “‘n mens kan nie van brood alleen lewe nie”, en dit is baie waar. Mens het darem so ‘n soetigheid nodig saam met ‘n lekker koppie tee.

Keith het besluit om klein koekies te bak vir die bederf saam met die oggend en middag tee. Die keuse van klein koekie resepte in die historiese kookboeke in die Towerwater biblioteek was eindeloos. Maar wat is nou meer eg Suid Afrikaans as ‘n baksel outydse soetkoekies.


Outydse soetkoekies bak is soos om plaat vir plaat herinneringe in die oond te steek. Die reuk van speserye vertel ‘n storie van skepe wat van Portugal om die Kaap van Storms, of soos dit in die 15de eeu bekend gestaan het, “Cabo das Tormentas”, geseil het na die spesery eilande.

Ek hou van die woord “Tormentas” om die Kaap te beskryf. Enige een wat al in die Kaap was tydens ‘n sterk Suidooster, weet watter marteling dit kan wees. Die spesery eilande of Molukke was die enigste plek waar naeltjies en neutmuskaat gegroei het. Die feit dat skeepvaarders bereid was om die onbekende oseane aan te durf om hierdie speserye te bekom, is ‘n bewys hoe waardevol speserye was. Vandag kan ons gelukkig enige spesery by die naaste winkel gaan koop. 

Speserye is nie net ‘n geurmiddel vir kos nie, maar inspireer menige digters en skrywers om hulle lof te besing. Selfs D.J. Opperman se herinnering aan vroue in sy lewe word gekenmerk deur die reuk van speserye. So verwoord hy die plesier van onthou in sy gedig Sproeireën, “My nooi is in 'n nartjie, my ouma in kaneel, daar's iemand... iemand in anys, daar's 'n vrou in elke geur!”

Soos plaat na plaat outydse soetkoekies uit die oond kom, word die huis gevul met die warm reuk van naeltjies, gemmer en kaneel. Ek onthou hoe my ma in Oktober elke jaar begin koekies bak het vir Desembermaand se kuiergaste. Daar is niks beter om ‘n honger kind tevrede te hou tussen etenstye as ‘n outydse soetkoekie in elke hand nie.


Die resep wat Keith gebruik het vir die outydse soetkoekies is as volg,

Outydse Soetkoekies

Bestandele
  • 6 koppies (1½l) koekmeel
  • 1 teelepel (5ml) kremetart
  • 1 teelepel (5ml) koeksoda
  • 1 teelepel (5ml) sout
  • 1 teelepel (5ml) fyn gemmer
  • 1 teelepel (5ml) fyn kaneel
  • ½ teelepel (2,5ml) fyn naeltjies
  • 2½ koppies (625ml) suiker
  • 1 koppie (250ml) botter
  • 1 koppie (250ml) vet
  • 4 eiers
  • 2 eetlepels (30ml) brandewyn
Metode
  1. Sif al die droë bestandele saam en meng dit goed. Voeg dan die suiker by en meng dit verder saam.
  2. Vryf die botter en vet met die vingerpunte in die droë mengsel.
  3. Voeg die brandewyn en die geklitste eiers by en meng tot dit ‘n stywe deeg vorm.
  4. Rol die deeg dun (3mm) uit en druk dit met ‘n koekie drukker uit.
  5. Bak dit vir 10 tot 15 minute lank in ‘n warm oond by 200 °C 



In "Hilda's "Where is it"? of recipes", gepubliseer in 1891, het ek die volgende resep gekry vir zoete koekies.

"TEA CAKES ("ZOETE KOEKIES")
(Very old Dutch Recipe. Mrs. Van der Riet.)

Ingredients 
4 lb. of Flour.
3 lb. of good clear Brown Sugar.
1 lb. of Butter.
½ lb. of Sheep-tail Fat.
1 lb. of Pounded Almonds (or 200 Almonds pounded without blanching).
4 Eggs
1 tablespoonful of Potash or Carbonate of Soda.
1 tablespoonful of Cloves (finely pounded).
2 tablespoonfuls of Cinnamon.
A tumbler of Dark Wine (Claret)

First rub flour, sugar, butter, spices, and soda well together; lastly, add the wine; knead all well together. If potash is used, it must be dissolved in the wine - is best mixed over-night. Roll the dough out with a rolling-pin; make into shapes with a wineglass or any thin shape.  Bake on buttered tins. The old Dutch people put a small piece of citron preserve in the centre of each little cake. Bake for twenty minutes in a tolerably brisk oven. Very good."

Van die resepte vir outydse soetkoekies wat ek aanlyn kon kry verwys na die gebruik van rooi bolus in die tradisionele resep. Outydse soetkoekies is moontlik met rooi bolus gekleur in die tyd voor voedsel kleursel geredelik beskikbaar was. Die rooi bolus word beskryf as ‘n “ferrous oxide” wat dit dus ysteroksied maak.

Die resepte vir soetkoekies in die resepte boeke van A.G. Hewitt (1890), H Duckitt (1891), E.J.Dijkman (1891), M Higham (1917), S. van H. Tulleken (1922) en H Gerber (1950), gebruik nie een rooi bolus in die resep nie. Ek weet nie wanneer rooi bolus die eerste keer in 'n soetkoekie resep gebruik is nie, maar dit kom nie voor in die vroegste gepubliseerde tradisionele resepte nie. 

Ek het wel 'n resep vir "Boere Koekies" in A.G. Hewitt se resepte boek gekry wat "roode bolus" bevat maar die resep bevat geen speserye nie. Sy het wel 'n resep vir "Old-fashioned Sweet Cakes" wat speserye bevat maar geen rooi bolus nie. 

Wat ek wel uitgevind het is dat yster oksied wat as voedsel kleursel gebruik word deur die Europese Unie as Yster Oksied E172 gelys en dit kan in swart, rooi en geel voorkom. My mening is dat dit die koekies ‘n bruiner eerder as ‘n rooi kleur gegee het. 

In die boek, Outydse Reseppies uitgegee in 1952 deur Maskew Miller is die volgende resep vir outydse soetkoek met rooi bolus in,

"Outydse Soetkoek

6 koppies fynmeel
1 koppie  botter
1 koppie  varkvet
2 koppies suiker
3 eiers
1 teelepel koeksoda
2 teelepels kremetart
1 teelepel rooibolus
1 teelepel fyn kaneel, gemmer en neut gemeng

Meng al die droë bestandele en vryf die botter en vet goed daarin. Meng alles met die eiers, knee deeglik en rol dun uit. Sny in vierkantjies of druk af met 'n vormpie en bak in warm oond (400° F) omtrent 20 minute." 


2 comments:

  1. Hallo Thys. My kennis van outydse soetkoekies wat ons in die Karoo gebak het in die 60's het die speserye i die koekiemengsel gekom en die rooi bolus was in n dun langwerpige strokie deeg boop die koekie aangebring. Hulle het almal so gelyk. Wens ek het n foto gehad.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo Anonymous, dankie vir die inligting. Ek onthou die koekies wat so 'n rooi streep oor die een helfte gehad het met 'n amandel in die middel.

      Delete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.