Wednesday 29 July 2015

Koeksisters en Koffie

Koeksisters is so tradisioneel aan Suid-Afrika en ek sal my verstout om te se dat jy 50 meter in enige rigting in Suid-Afrikaanse dorpe kan stap en jy sal in een vasloop.  Soos met enige dis of gebak in Suid-Afrika sal daar maar altyd debat oor die oorsprong daarvan wees.

Ek het groot geraak met ons gevlegde gebak as koeksisters. Die Maleise oliebol wat in stroop en soms klapper gedoop word is ‘n ‘koesister’ in die volksmond.


Al wat ek weet is dat ‘n koeksister se bak ‘n kuns is. Die gevlegte deeg word in warm olie gebak en my ma het geglo hulle bak die beste op ‘n gas stoof. Waneer die hele pot vol koeksister dryf wat uitgepof en sissend goudbruin raak, het my ma hulle uitgeskep in ‘n bak vol stroop wat oornag in die yskas gestaan het. Die beste is om twee bakke stroop byderhand te hou. Een in die yskas en een vir die vars koeksisters. Ruil die bakke gereeld om om te verhoed dat die stroop warm raak.


Die stroop moes koud wees sodat die warm opgepofde koeksister die stroop onmiddelik opsuig en ‘n krakerige dop vorm wat die stroop binne hou.
Die stroop het kaneel, gemmer en suurlemoen skil in wat hierdie lekkerny onweerstaanbaar maak.



Vroëer is gedroogde nartjieskil in die stroop gesit, iets wat ek ‘n hele jaar voor sal moet wag om te probeer. Rumina by Ondersteun Handelaars by die Soutriviermark gebruik nog steeds gedroogde nartjieskil in haar stroop en sy glo die smaak is onoortrefbaar.



Eendag as ek groot is sal ek ook probeer koeksisters maak met gedroogde nartjieskil wat ek self gedroog het.  Tot dan geniet ek die gebak van die plaaslike tuisnywerheid met ‘n pot koffie gemaak met Deluxe Coffee Works se heerlike koffie.



Waneer ek in die krakerige koeksister byt en die stroop loop soet in my keel af, dan kom lê die geluk warm in my binneste. Die reuk van die vars swart koffie  wasem in my neus voor ek die heerlike bitter drink sodat dit die soet van die koeksister in my mond ontmoet en hulle saam ‘n riel in my keel af dans.


Koeksuster, koeksister of koesister wat maak dit saak, al wat ek weet dit val soos heuning op die tong.

3 comments:

  1. As ek net nou aan daai tafel kon sit dan dans ek sommer self die riel. Pragtig dankie.

    ReplyDelete
  2. Daar is nie veel wat kan kers hou met plattelandse koeksisters nie. Lek sommer my lippe!

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.