Friday 28 September 2018

Towerwater Liefde


Die Engelse viooltjies in die Towerwater tuin het ons ontdek onder die twee oorgroeide koejawel bome voor die oorspronklike voorkant van die hoofhuis. Hulle was deel van ‘n blomtuin gevul met blou flappe (Iris), wit narsings, wit sneeuklokkies en pienk Natalse boslelies.



Ons het al die blomme ‘gered’ en vir hulle ‘n plek in die tuin gevind. Na 27 jaar groei hulle nog steeds in die tuin waar hulle seker al jare voor ons koms gegroei het. So het ‘n deel van die tuin se geskiedenis ook behoue gebly. Dit is belangrik om tydens ‘n restourasie by te voeg tot die geskiedenis van ‘n eiendom en nie net weg te vat nie. Die geskiedenis van Towerwater is groter as die som van sy dele. Ons het ten alle tye seker gemaak om elke ‘vonds’ te respekteer en te inkorporeer in die projek.


Die Engelse viooltjies (Viola odorata) het ons onder die kweper bome geplant sodat hulle daar kan groei na hartelus. Die viooltjie word gebruik as ‘n krui en om hulle langs die kruie beddings te plant was die logiese oplossing. Engelse viooltjies word gebruik as ‘n medisinale krui vir die behandeling van verkoues, brongitis en selfs kanker. Die kulinêre gebruik van die viooltjie kom al van die Griekse tye af. Dit word vars en gekook gebruik as ‘n sop verdikker en as ‘n versoeter in gebak.

Liefde likeur
Die Engelse viooltjie is ‘n gepaste plant vir die Towerwater tuin waar ons filosofie is om ‘n eetbare tuin te plant. Daar is verskeie boererate wat viooltjies bevat. Rate wat wissel van bloedvergiftiging, kanker, maagsere, suikersiekte en swere. Ek vind die inligting interesant want dit moet al lank van generasie tot generasie oorgedra gewees het.


So met die lente se koms het die viooltjie bedding begin blom, hul diep pers gesiggies staan uit teen die diep groen blare van die lente wat nog deurspek is met die bruin van die akkerblare wat soos ‘n vergete winter probeer deel bly van die tuin.


Die viooltjies in die tuin het twee skakerings van pers. Die diep pers onder die kwepers en dan die ligte pers wat verkies om in die klip trappies na die roostuin te groei. Ek hou van die kleur van viooltjies en in Lord Byron se beskrywing in die gedig ‘Childe Harold's Pilgrimage’, gepubliseer tussen 1812 en 1818, is een van die mooiste beskrywings. “The sweetness of the Violet's deep blue eyes, Kissed by the breath of heaven, seems coloured by its skies.”


Die massas pers blommetjies het my geinspireer om ‘n viooltjie likeur te maak uit my resepte boek ‘Maak jou eie likeur’, geskryf deur Jean Dickson in 1991. In die boek is daar ‘n resep vir ‘Liefde’ gemaak van viooltjies. Ek het besluit om Towerwater se eie viooltjie likeur te voeg by ons versameling van viooltjie likeurs.


Ek dink die likeur is geinspireer deur ‘Parfait Amour’ wat vertaal kan word as perfekte liefde. Amore was die Romeinse god van die liefde, en volgens oorlewering was hierdie likeur ‘n geskenk van die gode.


So het ek besluit om ‘Liefde’ te maak en het begin om die blomme te oes en te versamel.

Towerwater Liefde

Bestandele:
300g viooltjies
1 kruienaeltjie
3 heel wonderpeperkorrels (piment)
4cm stukkie kassia
1 stukkie foelie
1 steranys
600g (750ml) suiker
750ml water
1l Vodka

Metode:
Plaas die viooltjies en speserye in ‘n kastrol. Voeg die suiker en water by en roer by ‘n lae temperatuur todat die suiker opgelos het. Verhit tot kookpunt en kook totdat die stroop verkleur. Haal die stroop van die stoof af en laat afkoel.

Gooi die koue stroop in ‘n skoon glashoer met ‘n deksel wat dig sluit. Voeg die Vodka by, maak toe en laat trek 1 week lank op ‘n warm plek. Skud soggens en saans.

Syg die mengsel deur ‘n kaasdoek en herhaal, indien nodig. Gooi die likeur in droë, gesteriliseerde bottels, sit die proppe op, verseël en etiketteer. Bêre een maand voor gebruik.


Die likeur is soet an aromaties met blom en kruie aksente wat my herinner aan die viooltjie bedding onder die kwepers waar die lente pers en soet en die winter bruin en spesery ryk langs mekaar lê.  

1 comment:

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.