In Januarie, word een van die vrugte wat ek
die meeste geniet ryp in die boord. Die Van der Merwe pruimedant is een van
die soetste vrugte wat mens sekerlik kan kry.
Van laat Januarie tot vroeg Februarie, moet
ek bont staan om te verseker dat ek ‘n pluksel kry. Die voëls gee vir hulle al toets pikke die oomblik as hulle hul dof vaal pers
kleur begin kry.
Die pruimedant is familie van die pruim
maar by Ashton Kwekery, in ‘n buurdorp van Bonnievale, verskyn dit nie in die
vrugteboom katalogus onder pruime nie maar wel in sy eie kategorie as
pruimedant. Dit kan heel verwarrend raak. Die oomblik waneer jy pruimedant na
Engels vertaal, raak dit “prune” in plaas van “plum”. Die woordeboek verwys na
‘n “prune” as ‘n gedroogte pruim.
Wikipedia verwys na ‘n “prune” as ‘n “dried
plum of any cultivar”. Die gebruik van die term “prune” om na vars pruime te
verwys bestaan blykbaar nie meer nie. Behalwe as daar na spesifieke soorte
pruime verwys word wat uitsluitlik gekweek word om gedroog te word.
So dit lyk asof die pruimedant nog net sy
eie identiteit in Afrikaans het. ‘n Ander kenmerk van ‘n pruimedant is dat dit
‘n losser pit het wat maklik verwyder kan word. Beslis ‘n voordeel indien jy
dit wil droog. Pruime daarenteen het vaste pitte. Die pruimedant is soet tot
teen die pit, waar ander pruime so ‘n surigheid teenaan die pit het.
Pruimedante is ovaal waar ander pruime meer rond is.
Die voorouer van die Van der Merwe
pruimedant is in die twaalfde eeu gebore. Die Benediktynse monikke van die
Clairac Abdy, in die Lot Vallei tussen Agen en Villeneuve in Frankryk, het
Damas pruime van Sirië geent op ‘n
plaaslike kultivar. Hulle het die Damas pruim terug gebring na hulle derde
Kruistog.
Hierdie nuwe kultivar het bekend gestaan as
die Prune d’Ente (van die ou Franse word “enter”, wat om te ent beteken). Dit
is ook duidelik waar die gebruik van die Afrikaanse woord om die een boom op
die ander te ent vandaan kom. Die nuwe pruim vanaf Agen, of die Agen pruim,
word beskryf as ‘n pers-blou pruim met ‘n ligte poeierige was lagie, met ‘n
delikate smaak en geur.
Die vrugte is uitgevoer en met die stempel
van hul hawe van oorsprong, het hulle bekend geraak as “Pruneaux d’Agen”.
Die eerste pruimedant bome, Prune d’Agen is
na Suid Afrika ingevoer deur Harry Pickstone in 1892. Die Van der Merwe
pruimedant is ‘n oogmutasie van die oorspronklike Franse varieteit en is
gekweek deur J. van der Merwe in die Breërivier Vallei.
Die Van der Merwe pruimedant word beskou as
een van die beste pruimedant varieteite in die wereld. Diè pruimedant benodig ‘n minder
koue winter om vrugte te dra. Dit is dus beter aangepas vir produksie in Suid
Afrika met sy minder koue winters en baie sonskyn.
Pruimedante word meestal gedroog en is
gewild in die maak van geregte wat baat vind by die geurige en intense smaak.
Pruimedante is baie voedsaam en is ryk aan vitamien K, verskeie B vitamienes en
minerale. Dit is ryk aan vesel wat ook ‘n lakserende effek het.
Geskiedkundig is ons voorouers bekend
daarvoor om vrugte in alkohol in te lê om dit
langer vir verbruik te hou. Hierdie inlê van vrugte gaan gepaard met hul eie name om die produk te beskryf.
Appelkose in brandewyn is Boeremeisies met hul ronde bloswange, vars Hanepoot druiwe
in brandewyn is Kaapse Jongens met hul oop gesigte, Hanepoot rosyne in brandewyn
is Boerejongens met hul son verimpelde gesigte, droë appelkose in brandewyn raak oujong nooiens waar die blos in die
wange al so bietjie verweer het en droë pruimedante in
brandewyn word trompoppies genoem.
Toe ek die eerste keer met ‘n fles
trompoppies in my hand staan kon ek nie verstaan waarom die gedroogte
pruimedante in brandewyn trompoppies genoem word nie. Tot dat ek herinner is dat
gedroogte pruimedante ‘n lakserende effek het en hoe ‘n
persoon beweeg wat dringend by ‘n toilet moet kom, veral as die deur ook nog
gesluit is. Ek moes toegee dat dit ‘n gepaste naam is, maar moes wonder wie
met dié naam voorendag gekom het.
Lank voordat daar enige pruimedante in Suid Afrika gegroei het, het pruimedante met hul vaal-pers voorkoms al menige kunstenaar in Europa geinspireer. Een van hulle was Louise Moillon (1610-1696), ‘n stillewe kunstenaar van die St-Germain-des-Prés distrik in Parys.
|
Still Life with Basket of Plums, 1629 - Louise Moillon (1610-1696) |
Louise word beskou as een van die beste
stillewe kunstenaars van haar tyd. Sy was bekend vir die Flaamse styl wat
teenwoordig is in haar kunswerke. Haar temas was meestal vrugte wat op tafels
gerangskik was. Ek vind haar “Still Life
with Basket of Plums” wat sy in 1629 geskilder het baie interesant. Dit is
duidelik ‘n mandjie met Prune d’Argen, met hul vaalpers voorkoms en die geel
vlees van die oopgebreekte vrug wat langsaan lê. |
Still Life with Plums - Louise Moillon (1610-1696) |
Dieselfde pruime word gebruik as tema in
haar skildery “Still life with plums”. Weereens kan mens die geel vleis van die
oopgebreekte pruim sien. Selfs Luis Melendez kon dit nie weerstaan om hierdie
heerlike vrug te skilder nie.
|
Still life with plate of plums, figs and bread -Luis Egidio Meléndez (1716–1780) |
Die pruimedant was nog altyd deel van die
Towerwater vrugteboord. Ons geniet die suikersoet heerlikheid daarvan. Ek
geniet gedroogte pruimedante as ‘n peuselkos, in voorgeregte, hoofgeregte en
nageregte. Dit is uiters veelsydig as droëvrug. Ek sal eendag sy moontlikhede as ‘n vars vrug verken maar tot
dan is die songeel soetigheid ‘n bederf in Januarie se Klein-Karoo hitte by
Towerwater.
Sources:
https://ipaprunes.com/wp-content/uploads/2020/10/History-of-prunes-in-South-Africa.pdf
http://www.pruneau.fr/history.html
file:///C:/Users/50613189/Desktop/Van-Der-Merwe.pdf
https://www.arc.agric.za/Economic%20Impact%20Assessment%20Studies/Estimating%20the%20Economic%20Rate%20of%20Return%20to%20Plum%20Research%20Investments%20in%20South%20Africa.pdf
https://www.saplant.co.za/varieties/prunes/van-der-merwe/
https://en.wikipedia.org/wiki/Prune
https://www.hortgro.co.za/news/prune-tree-symbol-of-future/#:~:text=The%20first%20prune%20trees%20in,the%20shade%20of%20the%20tree.