Monday 22 September 2014

Ek Onthou jou in my Tuin


As ek deur my tuin stap onthou ek onwillekeurig D J Opperman se gedig Sproeireen,

My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand..iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!


As ek ‘n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met die nartjies om my heen
weet ek hoe dat ‘n vrou kan troos.


O my nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand…iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!


Soos Opperman se herrineringe aan mense deur geure opgewek word , word myne ook deur die visuele aangewakker. Ek vind familie en vriende oral in my tuin.



Philip se Clivia
Die geel clivia blom met oorgawe en ek onthou die mark in Bonnievale waar Philip hom vir my gekoop het en onthou Philip en my gedagtes gaan draai by die lekker kuier en waar ons by die Trattoria Alle Vignole op die Vignole eiland in Venesië borde seekos en karafte wyn sit en weg gesels het.

 
Die Portwyn Magnolia in blom

Die Portwyn Magnolia se swaar soet reuk soos verouderde portwyn vul die tuin en ek onthou my ma wat hom lank op haar balkon vir my versorg het. Ek het hom om op die historiese plaas Karnemelksvlei gaan haal as 'n klein boompie wat die boer se ma vir my gemaak het. Tydens 'n besoek van die Volksboukundige vereniging het ek hierdie boom buite die ou huis gesien en geruik en die tannie wat ook 'n kranige tuinier is het gesê sy sal vir my ‘n klein boompie maak nadat ek nie kon uitgepraat raak het oor die reuk van die blomme nie. Uit die bloute kry ek toe eendag 'n oproep,"Jy kan maar kom kuier jou boom is reg". Daardie selfde naweek ry ek deur Citrusdal toe om my Portwyn Magnolia te gaan haal.

Ek ontou my ma waar sy dou voor dag vye in die boom naby die kombuis deur gepluk het voor die voëls hulle kon kry. Vye en Hanepoot druiwe was van haar gunstelinge en my gedagtes gaan draai by "roadtrips' saam met haar Gamkaskloof toe, huis toe waar sy 'n ander mens was tussen die hanepoot wingerde en reuse vyebome. Die soet pienk blokke gedroogte vye was vir haar 'n kleinnood van herinneringe en jy kon nie beter kry as die in Gamkaskloof nie.

Die Hanepoot wingerd loop uit en ek dink aan neef Karel wat hulle vir my gaan soek het en soos gewoontlik gekry het. Langsaan staan die sitroenella malva wat hy sommer een naweek geplant het toe hy kom kuier het en ons nie by die huis was nie. Ons is sommer kom kuier mense sonder fensie reelings. Karel en Klein Karel wat so maklik 'n plan kan maak, soos toe Keith 'n sement "rope moulding" detail op die huis se "pediment" moes aanbring. Klein Karel se jeep se trekstang is sommer daar en dan afgehaal in die helfte gesaag, twee ysterplate teen 'n hoek is vasgesoldeer en Keith se troffel waarmee hy as jong seun leer messel het se handvatsel is vasgesoldeer. Vandag spog die huis met 'n ware volksboukundige afwerking.

Ek kan nie sê die rosarium laat my onwillekeurig aan Keith dink nie want niks omtrent die rose is onwillekeurig nie. Dit is 'n intense verhouding van water, kos en behandeling teen siektes. Maar waneer die rosarium in blom is slaan dit jou asem weg en ek sien Keith waar hy dooie knoppe uitpluk of diep water gee met 'n salige uitdrukking op sy gesig en ek weet nou is hy gelukkig. Die rosarium is 'n veeleisende liefde wat jou nie deel met 'n ander plant nie.

Die groenvye sit onnutsig in die vyeboom en ek besef dit is tyd vir groenvye konfyt. Ek onthou my suster Stella vir wie se hande niks verkeerd staan nie en wat elke jaar seker maak dat ek 'n paar flesse groenvye kry vir die huis net vir bederf. Hierdie jaar het sy help marmelade kook en ek ry huis toe na ek die groen vye afgelaai het met flesse vol marmelade wat die belofte van 'n lekker onthou inhou.

 
Stella se Marmelade

 My tuin gee vir my die lekkerte om die mense vir wie ek lief is te onthou deur wat ek sien, proe en ruik heeldag lank.

2 comments:

  1. Wanneer 'n tuin veel meer is. Waar agter elke plant en blom 'n gedagte, 'n storie en 'n herrinering of heugenis rustig wag. Keith

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.