Tuesday 23 February 2016

Tussen Seisoene


Dit was die tweede naweek  waar ons by die huis kom en die werk staan en wag  vir ons. In plaas van afpak en ontspan begin ons werk prioritiseer vir Saterdag oggend. Shawn is met verlof vir twee weke en ons moet inspring en die kritiekste werk van die week op 'n Saterdag in pas.

Saterdag oggend trek ek die slaapkamer gordyne oop om die boord in ‘n landskap van laat somer te sien staan, waar die vorige nag se reën  koel klam kolle tussen die bome gelaat het. Met die lug grys en wolke wat duidelik nog reën bui beloftes inhou, besef ons dat dit genade gaan neem om alles gedoen te kry in die tuin.

Die bome in die boord staan verveeld rond en wag vir herfs. Met die meeste vrugte wat al gepluk is, is hul werk klaar vir die somer. Daar is gerugte van herfs in die blare wat nie meer hul diep somergroen is nie.

Die huis is koel van die nag se reën wat klam op die plante blink. In die stil kombuis met Engelse ontbyt tee en gemmer marmalade op roosterbrood luister ons waar die voëls in die bome gesels. Met skerp kort twiets van die Kaapse witogies tot die somber koer van die Tortelduiwe ,  ‘n twee-dood, twee-dood van die Laksman in die groente tuin en die rol fluit van die Tiptol paar in die kweperlaning.



Die Natalse boslelies is in volle blom en hul soet eksotiese reuk kompeteer met die heuning soet reuk van die Vioolhout blomme. Die bye se bedrywige versameling van nektar in die Vioolhout laat die blommetjies neer reën op die ou skoolkar onder die boom.

Ons dag verdwyn in gras sny en ander tuin take in 'n tuin wat duidelik einde se kant toe staan met die somer seisoen. Daar is tekens dat die herfs by die hek staan en wag. Die vallei ruik na druiwe wat geoes word en die mos-suur strepe lê op die teerpaaie wat lei na die verskillende wynkelders.

Met ‘n groente tuin wat tussen seisoene is is die mandjie gevul met ‘n bietjie van alles. Boontjies, knoffel, kruie, baba murgpampoentjies, baba mielies en tamaties vir ‘n tussen seisoense gereg sorg met vars somer geure gekomplimenteer met die herfs smaak van chorizos.





1 comment:

  1. Ongelooflik om te besef dat herfs al om die draai is. Pragtige pos soos gewoonlik. Dankie.

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.