Vrydagaand stop ek in ‘n see van akker blare by die huis wat
baie jammer vir homself lyk met net een van die twee lampe by die voordeur wat
brand. Ek vind geen ekstra dag en nag
gloeilamp in die huis nie en moet maar verlief neem om ‘n gewone gloeilamp te
gebruik. Ek troos my daaraan dat dit net tydelik is.
In die sitkamer lê ‘n kriek dramaties in die middel van
die vloer morsdood, beentjies wyd uitmekaar. Ek wonder of dit selfmoord of
moord was maar besluit toe maar om die moontlike misdaad toneel in die skoppie op te vee en in die
drom te gooi.
Die koel huis het verander van somer lafenis tot herfs
ongemak en ek gooi die swaar Indiese deken oor die bed vir ekstra hitte in die
nag. Ek besef dit is tyd om die verwarmers uit die kelder te gaan haal maar dit
moet maar wag vir die volgende oggend.
Saterdagoggend maak ek die luike oop maar
die lig stroom nie die vertrekke in nie, die dag sit teen die ruite vas
en die kamers bly in skemer gehul.
In die sitkamer sien ek die bruin en geel akkerbome staan
met hul koppe in die mis wat eers teen twaalf uur voor die swak son sal wyk. Ek
besluit om die ligte klasieke klavier musiek te los en sit toe ‘n jazz en blues album op.
Ella Fitzgerald se “Summertime” gaan sit in die leerstoel in
die biblioteek en sukkel om die huis te vul. Die musieknote hang vir ‘n oomblik
in die koel skemer kamer en val dan vloer toe en verdwyn onder die mat. Waar die musiek soggens die sonryke kamers gevul het is dit asof dit vanoggend besluit het dat een koue kamer genoeg is.
In die kombuis maak ek tee en die Assam blare lyk soos herfs
wat in die teepot geval het. Die kookwater jaag hulle in sirkels in die teepot
rond. Die aroma wasem warm die kombuis in en kom lê warm in my neus. Die botter en marmalade smeer ek dik op
my roosterbrood en ek skink vir my ‘n warm koppie Assam. Ek proe gister se sonskyn, ruik vandag se herf en die lekkerte kom sit
tussen my ribbes vas, ek is weer by die huis. Behaaglik vryf ek oor die geelhout
tafelblad en wonder oor die meer as 150 herfs seisoene wat dit al gesien het.
Voor die kombuisdeur in die Fiddlewood skree die Jan Fiskaal
“tweedood”, “tweedood” voor hy oorslaan
in sy gefluit wat my altyd verras en ek sit en luister vir ‘n oomblik na sy
gesing wat lig en helder in die mistige dag klink. Iewers in die agtergrond sing Nat King Cole
“Autumn Leaves” en ek dink ja Nat as jy
maar weet hoe lyk die werf van “autumn leaves” en iemand moet dit nog ophark.
Ek kyk na die diep skadus in die kombuis hoeke, ek sit met ‘n baadjie aan en ontbyt eet en ek besef my huis het herfs
geraak.
Pragtige beelde wat n mens herinner aan herfsdae uit jou verlede - soos as kind jou voete deur diep hope blare te sleep. Dankie.
ReplyDelete