Vroeg Saterdag oggend lê ek in die bed en kyk uit oor die boord tot waar die bougainvillea soos ‘n geel en rooi waterval oor die heining val. Die diep blou lug is ‘n aanduiding dat dit ‘n mooi maar warm dag gaan wees.
Die angstige tjirp-tjirp van die Kaapse Tiptol in die
peerboom lat my opstaan. Deur die venster sien ek waar die Tiptol paar in die
peerboom sit en waarskuwend tjirp-tjirp terwyl hulle stip na die pit paadjie
onder die venster kyk. Toe die Jan Frederik by hulle aansluit besluit ek maar
om te gaan kyk wat fout is.
Die Kaapse Tiptol met sy vraagteken gesiggie |
Ek het die kat uit die boom gejaag want ons probeer ons tuin
so voël vriendelik te maak as moontlik en ongenooide katte is nie welkom in ons
tuin nie.
Die drama in die boord was meer kommerwekkend omdat daar nog
‘n groot slang iewers in die tuin kon wees.
Vroeg die oggend op Gesinsdag bel buurvrou my met die nuus
dat plaaswerkers wat op pad dorp toe was ‘n groot slang by die tuin sien inseil
het. Ek het die opgewonde stemme in die straat gehoor maar het gedink dit is
maar net mense wat die nuus van kersgeskenke, opgewonde met mekaar deel.
Ek is nie bang vir slange nie want ek weet hulle is meer vriend
as vyand van die tuin en hulle sal eerder van ‘n mens probeer wegkom as om jou
te konfronteer, behalwe as jy hulle verras. So ek het besluit om hom nie te
soek nie en vertrou dat hy op sy eie sy pad uit die tuin sal vind.
Die voëls se gekwetter in die boord laat my besef dat dit
moontlik die slang kon wees en as hy na twaalf dae nog in die tuin is dan het
hy moontlik ingetrek. Dit was tyd om huur ooreenkomste te bespreek of eerder
die ontruiming van die perseel deur meneer slang indien hy nog hier is.
Die paadjie in die boord was stil en leeg maar die Tiptol
paar het nog steeds in die boom gesit en tjirp. Die enigste plek waar iets kon
skuil was in die drein van die badkamers. Ek sou die deksel moes oplig maar dit
sou direkte konfrontasie skep met wie ook al daar skuil. Ek kry toe maar ‘n
lang riet om die deksel op te lig sodat enige reaksie teen die riet sou wees en
nie my kaal hand nie.
Die drein was leeg en ek moes tot die slotsom kom dat dit
moontlik ‘n kat was wat hulle ontsenu het. Omdat hul nes in die boord is en dat
die kat tenaby was na hulle smaak was hulle getjirp meer intens. Die slang is
seker lankal besig om muise te vang iewers in die veld.
Ek besluit om gou aarbeie voor ontbyt te gaan pluk terwyl
dit nog koel is. Eers moes ek gou die vensterluike toemaak sodat die nag se
koelte in die huis kan bly.
Ek het ‘n groot geel strooi hoed wat die verpersoonliking
van geluk is want as ek my groot geel hoed opsit beteken dit dat ek iets buite
gaan doen wat ek geniet of dit tuinwerk, vrugte pluk, groente oes, sommer net
in die tuin ontspan of ‘n wandeling deur
die wingerde is.
Na ontbyt gaan pluk ek boontjies, baba mielies en tamaties.
Die opslag geel tamaties staan oor die hele tuin en soos weglê hoenders se
neste moet ek hulle oral soek. My groot geel hoed hou my gesig en nek in die
skadu en waar ek met skottels tamaties en mielies, en ‘n mandjie boontjies
kombuis toe stap voel ek soos ‘n provinsiale landheer.
Die koel kombuis het na die sonryp aarbeie geruik wat in die bak op die tafel gestaan het. As ek my oë toe maak kon ek my verbeel ek staan binne 'n groot soet aarbei so oorweldigend was die ruik van die vrugte in die huis.
Jare terug by ‘n kunsgallery in Kaapstad het ek ‘n skildery
van Roelie van Heerden gesien. Die
skildery genaamd ‘My groot geel hoed maak my baie gelukkig’ het tot iets binne
my gespreek en ek het besluit om dit te koop.
Ek is verlig dat dit toe nie die slang was nie. Hoop hy is lankal weer terug veld toe.
ReplyDelete