Wednesday 7 October 2015

Klaprose en Kappertjies

Donderdag kry ek ‘n oproep uit Parys. Dit is Philip en hy wil weet of ek Saterdag in Bonnievale is. Ek antwoord bevestigend en hy sê maak vir ons iets lekker ek kom vir jou kuier.    Dit vat vir my ‘n oomblik om te verstaan wat hy sê maar ek begryp onmiddelik wat hom laat besluit het om Suid-Afrika toe te kom.


Kappertjies
Dit is altyd lekker om saam met Philip te kuier. Die feit dat hy bereid is om van Parys af te vlieg en dan nog deur te ry Bonnievale toe net vir aandete, het ek baie waardeer. Vir so ‘n opoffering van sy kant moes ek my kant bring wat die ete aan betref.

Ek besluit om snoek te braai met patats vir die hoofmaal en groen vye konfyt crepés geflambè in brandewyn vir nagereg. Ek wou vir hom kos gee wat hy nie maklik in Parys sal kry nie.

Met Saterdag wat ‘n heerlike warm dag was kon ek die huis oopmaak sodat die varsheid van die tuin deur die hele huis kon waai. Die reuk van die vrolike bos klaprose, wat ek nooit kan weerstaan nie en wat ek amper instinktief koop waneer ek hulle sien, se reuk hang eksoties in die eetkamer.


Klaprose
Philip ariveer terwyl ek besig is om die vuur te pak en nadat ons afgepak het help hy gou om die MCC uit te dra boord toe. Ek het besluit om sommer in die boord te braai waar die kappertjies mals oor die hoop klippe, wat nog mure moet raak, groei.

Die aand raak ‘n heerlike kuier en dit voel asof hy nooit weg was nie.  Wat ek van Philip geniet is dat hy die aura van ‘n wel berese mens het en hy bring die hele wereld saam hom maar hy is so in die oomblik waar ons in die boord sit en braai.


Gebraaide Snoek en Patats met Korrelkonfyt stroop
Met MCC in die hand en ‘n bord vol gerookte salm terien, melba roosterbrood en geroosterde artisjokke het ons planne gemaak , huise in die Franse platteland gekoop en opgevang met wat vriende en familie mee besig is.

Die aand was veels te kort maar ons moes gaan slaap sodat Philip die volgende oggend na ontbyt kon terug ry stad toe om by sy ouers te wees.

Ek groet by die hek en wuif die kar in die pad af. Ek dra ‘n bietjie weemoed die stil huis in waar die reuk van klaprose nog steeds eksoties in die lug hang.  Onder die klaprose weerspieël die marzipan lekkers wat Philip van Frankryk gebring het die kleure van die klaprose.

Klaprose
Marzipan Lekkers
Die bottel Duluc de Branaire-Ducru, wat die belofte van eksotiese spesery smake inhou staan langs die bos klaprose as nog ‘n bewys dat Philip hier was. 

1 comment:

  1. Die snoek lyk te lekker! Die groen vye konfyt crepes flambe laat my mond water! 'n Kaapse draai inderdaad.

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.