Tuesday, 6 October 2015

Tot Siens Carel


Saterdagoggend loop ek in Klein Carel vas in die hoofstraat waar hy besig is om na ou goed in Bonnievale se antieke en tweedehandse winkels te soek. Ek glimlag in my binneste want ek sien sommer sy pa Carel Cordier in hom en ek wonder of hy weet hoeveel hy van sy pa hy in hom het.

Sy nuwe passie is om ou horlosies te versamel en ek dink aan daardie kamers vol staan horlosies in Dullstroom se winkel wat trots een van die grootste horlosie versamelings in die suidelike halfrond het.

Klein Carel se gesigs uitdrukking verander en ‘n weemoed kom in sy oë toe hy my vertel dat sy pa drie maande terug in ‘n vragmotor ongeluk op ‘n plaas buite Heidelberg oorlede is.

Die onwerklikheid van wat hy my vertel maal deur my kop en binne my breek iets maar ons gesels nog oor sy pa voor ons groet en ek sukkel om nie sommer net te begin huil nie.

Ek stap oor die straat na die supermark om my inkopies te gaan doen maar die seer binne my was besig om te groot te raak en dit moes uitkom. Ek draai om en loop terug na die bakkie en ry terug huis toe sodat ek in die veiligheid van my huis my emosies onder beheer kon kry.

Die groot bruin leun stoel in die skemer biblioteek bied my die veiligheid waarna ek soek en ek sak terug in die bekende  gemak daarvan. Waar ek in die skemer sit raak die seer van die onbekende verlies te groot vir my borskas. Soos ‘n damwal wat breek  bars dit  uit my lyf en vloei oor die vloer om kamers en hoeke te vul  todat die huis voel of dit ook nie die omvang van my hartseer  kan hanteer nie.  

Ek bly sit verslae met die wete dat Carel vir altyd weg is en dit voel leeg binne my. Na ‘n lang ruk vou ek my hartseer op met netjiese 90 grade hoeke net soos ek in die mariniers geleer is. Ek pak dit nie weg nie want ek weet hierdie is ‘n hartseer wat nie gereed is om weg gepak te word nie.

Ek wik en weeg om Keith te bel met die nuus maar besef daar is geen gewenste tyd om sulke nuus oor te dra nie, hoe gouer hoe beter. Ek sukkel om woorde te vind om vir hom die nuus mee te deel. In die leegte binne my vind ek tog die woorde om die nuus aan hom oor te dra. Die stilte in die gesprek spreek boekdele voordat hy weer praat.

Na die gesprek staan ek op om my gesig te was, my skouers reguit te trek en die dag aan te durf. Die skemer huis is nog gevul met hartseer en die reuk van klaprose toe ek die deur agter my sluit.

Carel Cordier is my neef aan my ma se kant wat laat in ons lewens ingekom het met Gamkaskloof as ‘n gedeelde passie.

Carel was lief vir geskiedenis en ou tradisies en hy het aanklank gevind met wat ons besig was om te doen by Towerwater. Hy was ‘n bron van inligting, ‘n vriend, familie en ‘n plesier om mee saam te kuier.

Toe ek hanepoot stokke gesoek het om die tradisionele druifsoort in die historiese tuin te plant het Carel hulle vir my gevind. Carel het mense geken oor die hele Wes-Kaap en sy kennis was onuitputbaar. Ons het een aand langs die braaivleis vuur gesels oor wat ek met die hanepoot gaan maak. Die gesprek het gaan draai in Gamkaskloof waar die beste hanepoot groei en die stook van witblits.


Die Hanepoot wingerd in al sy glorie
Carel het nie self witblits gedrink nie maar het so eenmaal ‘n jaar met ‘n bottel by die huis aangekom waneer hy kom kuier.

Toe ek opsoek was na outydse suurlemoen malvas het ek een naweek by die huis gekom met een wat sommer in die middel van my kruietuin geplant is. Ek vind later uit dit was Carel wat een gevind het en toe hy ons nie by die huis kry nie sommer besluit het om dit te plant. Die malva staan nog steeds op die verkeerde plek waar hy hom geplant het. So staan herinneringe aan Carel in ons tuin en sal hy onthou word met die maak van Kaapse jongens en korrel konfyt.

Met die bou van die platdakgewel aan die ‘nuwe voorkant’ van die huis was ons dilemma hoe om die tou detail in die pleisterwerk aan die bopunt van die gewel te maak. Daar was voorbeelde op die ander ou platdakgewels wat as voorbeeld vir die een op die Towerwater huis gedien het. Ongelukkig kon ons niemand kry wat geweet het hoe om dit te doen nie.

Ons moes ‘n plan beraam en het gedink indien ons ‘n troffel kon kry met ‘n halfronde detail op die hoek kan ‘n mens die detail in die pleisterwerk messel, maar hoe gemaak om een te kry.

Carel se eenvoudige oplossing was om een te maak. So een Saterdag is ons deur na Klein Carel waar die Jeep se trekstang  middeldeur gesaag is om ‘n halfronde te maak. Ek is na die landbou koöperasie waar ek twee afval stukke metaal gekry het. Carel en Klein Carel het dit aan die halfronde gesoldeer teen ‘n 90° hoek en ‘n troffel hadvatsel van Keith se eerste troffel wat hy as jong seun by sy oom gekry het is aan die nuwe troffel vas gesoldeer.


Die gewel met sy pleister tou detail
Met hierdie enig in sy soort troffel is die tou detail met moeite deur Keith in die pleisterwerk in die gewel aangebring. Dit was ‘n tydrowende stuk werk waar ons weereens geleer het dat die teorie beter werk as in die praktyk.
Maar vandag spog Towerwater met ‘n unieke volksboukundige gewel wat moontlik gemaak is deur die twee Carels. Nog ‘n monument aan ‘n mens wat so ruim van gees en hart was.

Ja Carel daar was maar een soos jy wat so min gevra het en so baie gegee het.  Dit gaan onmoontlik wees om jou nie op die onverwagste tye te mis nie.  Jy wat soms so erenstig en ondeund kon wees maar altyd opreg.  Jy het in ons lewens ingestap sonder tierlantyntjies en ons lewens kom verryk met jou passie en menswees.

Wel Carel ons moet seker nou groet maar dit voel so verkeerd noudat die hanepoot wingerd groen in die bot staan. Dankie dat ons jou kon ken dit was ‘n voorreg.

Carel in Gamkaskloof
Tot Siens Carel Phillippus Cordier  *09 - 08 - 1951  - +29 - 07 - 2015

1 comment:

  1. Dankie Thys. Hy het ons lewens verryk deur sy diep kennis, insig en vriendskap. Sterkte aan huisgesin en familie.

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.