Sunday 18 January 2015

Breyten se Bonnievale

In 1991 het ons die huis van oom Nick Olivier gekoop en het ons die voorreg gehad om goeie vriende met sy suster Anna van Dyk te word. Tant Anna was op daardie stadium ‘n jong  78 jaar oud en ‘n formidabele vrou. Sy het maklik haar trekklavier by ‘n braai uitgehaal en die ongelooflikste musiek gemaak. Oor tant Anna kan ek boeke skryf want die 20 Jaar wat ons haar geken het was sy ‘n inspirasie vir ons.

Breyten se Bonnievale - Kluite het Skaduwees
Tant Anna en oom Nick se ma was ‘n nooi Breytenbach en ek glo Breyten se oupa se suster. Tant Anna het altyd met deernis van haar neef Breyten gesels en soos ek verstaan het het hy in Hoop Straat gebly net onderkant  die oorspronklike eiendom voordat dit  opgedeel en verkoop is.

      Breërivier ‘n slentertong wat diep fluister oor klippe en palmiet
Toe ek deur my versameling van Breyten Breytenbach se boeke blaai kom ek af op ‘n gedig wat my na aan die hart lê want ek kon  soveel van  my ervaring van Bonnievale en die eiendom  in die woorde sien.

Oom Nick in sy tuin
Ek kon sien dat oom Nick net so lief was vir hierdie stuk aarde as wat ons is.

 
skuins in die liefde ‘n visioen gesien wat die oë ontroer:
Bonnievale die son loop sonder kieries of geraas soos ruik
deur die land die aarde rooi en hemel  blou en wolke
wit vlieënde tapyte boomsingerties maak glinsterende geluid
kluite het skaduwees die tamaties is sagte harte Breërivier
‘n slentertong wat diep fluister oor klippe en palmiet
agter die rant gooi Happy Valley se mense hul klanke
teen die rantjies vas my oom Nick staan in sy tuin
en kou die gras en streel sy pampoene hy kyk oor
wat daar uit sy aarde groei en tel sy seëninge my
grootvader se heerlike stof lê warm in die heuwels want
God sit en droom in ‘n boom met ‘n bril en ‘n boek en
‘n beker moerkoffie en ‘n Dawidsny en Hy kyk oor
sy handmerke oor die boorde die waterlope die muildiere
die wolke en stof
en van pure blydskap knip Hy sy oë
Breyten Breytenbach – Ysterkoei – blues, bladsy 373, Human  & Rousseau, 2001

Die Huidige Groentetuin
 Oom Nick se tuin was sekerlik groter as wat die huidige groente tuin is met pampoenlande wat af loop tot teen aan Hoop Straat waar Breyten sou verby loop maar my seëninge kan ek elke dag tel. Ons pad moes hiernatoe loop want hierdie aarde het ons nodig soos ons dit nodig het.

2 comments:

  1. Dankie dat jy ons aan hierdie pragtige verbintenisse herinner. Tant Anna sal ons altyd lief he.

    ReplyDelete
  2. What a truly amazing person Tant Anna is. An inspiration to us all.

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.