Monday 5 January 2015

Ek Gooi My Luike Oop

Ses uur in die oggend en die huis is in skemer gehul met strepies son wat plek plek deur die luike voor die vensters beur. Die huis is koel en ek lê tussen die wit lakens en ruik die son in die beddegoed. Ek staan op en die koel bataafse vloerteëls laat my amper wakker word, vining loop ek na die biblioteek om Enrique Granados se Valses Poéticos aan te sit.

Die Son deur die Dubbel Deure
Die Spaanse komponis se klavier musiek vul die stil ruimtes van die koel kamers en die poëtiese musiek dans om die hout meubels. Ek klim terug tussen die lakens vir pure bederf en sak my kop terug teen die kussings. Die salige wete dat ek hier is vir twee weke kom klim saam my in die bed.

Die Son deur die Slaapkamer en Voorkamer se Vensters
In die biblioteek speel Enrique klavier met sy weglê snor en ek luister na die tuin wat al goed wakker is met die gekwetter van voëls. Die dag roep en ek staan op om die son te laat inkom. Ek maak die luike voor die dubbeldeure oop en die son beur verby my en verlig die bekende gesigte op die fotos in die houtrame. Die strale word vasgevang in die rooi, blou en goud van die Venesiaanse glasbak op die tafel.

Die Son deur die Kombuis
Ek stap van kamer tot kamer en gooi die houtluike oop en laat die son oor hout, keramiek en klei spoel. Die huis word lig en klaviernote vloei by vensters uit in die tuin in en die huis is oplaas wakker.

Die Son Spoel by die Vensters in.
Ek gooi my luike oop en soos met die son sal ek later my vriende by Towerwater  verwelkom waar ons die huis sal vul met die warmte van samesyn.

4 comments:

  1. Sunshine, special friends and homely spaces; essential ingredients of a joyous life. Lovely thoughts Thys. Thanks for sharing.

    ReplyDelete
  2. 'n Bietjie son het vanoggend in die koue noord verskyn!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Jy moet kom kuier John ons het baie son vir jou hier.

      Delete
  3. Argh Thys, ek sit hier en my gedagtes ruik jul huis! Baie dankie!

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.