Monday 24 August 2015

Al die Veld is Vrolik

Die natuur het besluit die winter is verby en tekens van die lente is besig om oor die vallei te spoel in blokke pienk, wit en groen. Daar is ‘n energie in die natuur soos waneer mens wag vir die eerste vuurwerk  om te omplof in ‘n reën van kleure by ‘n vuurwerk vertoning.


Saterdag het ek deur die veld buite Bonnievale gestap en ek kon die Lente in die veld ruik en sien.




So baie keer word ons asem weg geslaan deur die plate en plate kleur van veldblomme maar gaan sit op jou hurke en bekyk die veld van nader en bewonder die verskeidenheid van die kleinste blommetjies  wat deel uitmaak van hierdie visuele fees.



Die veld is ‘n bedrywigheid  van insekte wat heen en weer hardloop besig om iets belangrik in die gogga gemeenskap te doen. Ek weet hierdie is net die voorvertoning want die natuur kan partykeer lekker uitspattig raak met die verskeidenheid plante  en blomme wat die hoof vertoning van die lente en somer uitmaak.



Terwyl ek daar in die veld staan en die natuur se handewerk gadeslaan kom Leipoldt se woorde van “Al die veld is vrolik” by my op.


Al die Veld is Vrolik

Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;
al die kriekies kriek daarbuit'; elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;
hier galop 'n goggatjie, daarso dans 'n mier.

Selfs die vissies spartel teen die kafferskuil;
in die groot ou eikeboom droom 'n oupa-uil.
Oral in Karooland is 'n ruik versprei:
boegoeblom en appelkoos--kan jy beter kry?

Bind vir my tesame katjiepiering wit,
bobbejaantjies blou en bont, rose in gelid,
varings van die klippe, oral, ai só mooi,
rooi kalkoentjies uit die vlei--blomme uitgestrooi.

Vrolik is die wêreld, vrolik rant en vlei!
Elke koggelmannetjie het sy maat gekry.
Elke gons'rig' goggatjie is getroud of vry:
vrolik is die wêreld hier, vrolik veld en vlei!


C. Louis Leipoldt

1 comment:

  1. Pragtige 'voorvertoning' van die lente. Leipoldt se beskrywing is perfek. Dankie.

    ReplyDelete

Please remember to add your name or nickname to your comment.
Struggling to comment? Please let me know at thys.hattingh@gmail.com.